Monday, October 26, 2009

Nuuskommentaar - Radio Pretoria

NUUSKOMMENTAAR - 26 Oktober 2009


Helpmekaar

Armoede ken nie kleur nie. Dié woorde het verlede week telkemale op
die Helpende Hand Reddingsdaadkongres weerklink. Natuurlik is dit so
dat almal wat arm is, swaar kry, maar in die nuwe gepolariseerde
Suid-Afrika is niks ongelukkig kleurloos nie.

Die hele grondslag van ons gemeenskap berus op ras. Daar is
rassekwotas vir alles: van sport tot werksgeleenthede, van grondbesit
tot subsidies aan universiteite en van skooltoelating tot hulp aan
armes. As dit nie daarvoor was nie, was dit nie nodig om 'n
reddingsdaadkongres vir arm Afrikaners te hou nie.

Dit is jammer dat daar weer mense was wat probeer het om hulle grys
politieke sienings op die kongresgangers af te dwing met nuttelose
debatte oor volksidentiteit en wie almal gehelp moet word. So al asof
die kongres maar net nog 'n nasiebou-oefening was.

Organiseerders van soortgelyke geleenthede in die toekoms moet miskien
maar kennis neem van hierdie mense se lojaliteite en hulle liefs nie
in die toekoms by volksake probeer betrek nie. Laat hulle in vrede om
die sogenaamde breër Suid-Afrikaanse of selfs Afrikaanse gemeenskap te
probeer dien.

Daar is alreeds genoeg struikelblokke in die pad van
armoedige-verligting vir blankes, wat deur die regering daar geplaas
is. Dit is nie nodig dat ons nog struikelblokke moet uitnooi om oor
ons pad te kom nie.

Dit word oral in die wêreld aanvaar dat Jode by Jode koop, dat
Portugese families in enige land mekaar ondersteun en dat Sjinese
sake-netwerke vorm. Dit is tyd dat ekonomies-kragtige Afrikaners
daarmee vrede maak dat niks wat hulle doen ooit goed genoeg gaan wees
om aan die eise van die ANC se Freedom Charter te voldoen nie, en dat
hulle net sowel betrokke kan raak by hulle eie mense se pogings om
ekonomies selfstandig te raak.

Daar is baie goeie besluite op die kongres geneem, onder andere dat
behoorlike navorsing gedoen moet word oor die omvang van die probleem.
Daar word losweg gepraat van 2,5 miljoen arm Afrikaners, maar niemand
weet regtig hoeveel dit is en hoe groot hulle nood is nie. Niemand
weet ook hoeveel kapitaal werklik in volksgeledere beskikbaar is nie.

Dit is ook positief dat taal verbind word aan ekonomiese
selfstandigheid en dat veral onderwys en opleiding in Afrikaans vir
die kongresgangers belangrik is.

Baie klem is ten regte geplaas op samewerking tussen organisasies, die
skep van netwerke, die rol van vestigingsprojekte en die belang van 'n
toekomsvisie, asook die stigting van 'n fonds vir die bemagtiging van
Afrikaner kinders.

Dit is alles baie goeie idees maar dit gaan net werk as ons almal as
volksgenote inklim en betrokke raak. Daar is nie meer tyd vir suur
druiwe, onderlinge twis en onbetrokkenheid nie. Daar is vanaand 'n
kind wat honger gaan slaap, daar is oor 'n maand 'n matrikulant wat
werk gaan soek, daar is 'n Afrikanerwinkel op die hoek, daar is 'n
gesin sonder 'n blyplek. Dit is waaroor dit gaan. Wat doen JY om te
help?


http://www.radiopretoria.co.za/Nuuskommentaar.php

No comments: