Thursday, February 25, 2010

Belaglike prysverhoging op elektrisiteit skep geleenthede

Na die aankondiging dat Nersa 'n tariefverhoging van 24,8% vir
vanjaar van April vir Eskom toegestaan het, het talle organisasies met
goeie reg negatief gereageer. Dit is ooglopend dat dit negatief sal
inwerk op al fasette van die ekonomie en daarom is dit nie nodig om
die ooglopende hier te herhaal nie. Dit is ook nie nodig om dit uit te
spel dat die ANC regering nie sy inflasie teikens sal bereik nie en
ook nie sy teiken in ekonomiese groei nie. Wat dalk wel nodig is om te
noem, is dat dit vir die Afrikaner nuwe geleenthede skep, wat hy
verseker sal aangryp. Dit is nodig om dit te noem, aangesien ons volk
blykbaar so gewoond geraak het aan kla, dat ons vergeet het dat ons
volk op sy beste is wanneer dinge die swaarste gaan.

Die realiteit van die omstandighede is dat dinge nie gaan verbeter
nie, in teendeel, dit gaan oor die volgende paar jaar net vererger.
Aan die anderkant van die munt is dit ook so dat daar reeds
alternatiewe is vir ESKOM en dat verskeie Afrikanerentrepeneurs reeds
geruime tyd hieraan werk. Met die realiteitsbom wat nou gelos is deur
Nersa, voorsien die OSI dat verskeie alternatiewe binne enkele maande
beskikbaar sal wees. Die OSI sal ook 'n taakspan aanstel om hierdie
alternatiewe te ondersoek om te verseker dat hierdie oplossings binne
die volksekonomie bly en daardeur tot voordeel van die volk.

Die OSI doen 'n beroep op volksgenote om realisties te wees oor Afrika
en om te besef dat waansinnige ekonomiese besluite is die norm reg oor
Afrika en Suid-Afrika is nie 'n uitsondering nie. Daar word ook 'n
beroep op volksgenote gedoen om die realiteit van ons volk te besef,
want die spreekwoord lui nie verniet "'n boer maak 'n plan" nie.


Ben Geldenhuys
Oranje Sake Instituut

http://www.bravoland.co.za/forum/index.php/topic,5281.new.html#new