Tuesday, January 26, 2010

Nuus van die VVK

Op Saterdag 23 Januarie 2010 het die VVK onder die uiters bekwame
leiding van Mnr. Dolf Buitendag 'n strategiese beplanningsessie gehou;
bygewoon deur die Sentrale Komitee, Verkiesing Streek-Koördineerders
vanoor die hele land; asook ander belangstellendes (waaronder die
nimlike en skerpsinnige Professor Adriaan Pont – dankie vir die
insette, Prof!).


Die beplanningsessie vorm 'n waterskeiding in VVK-beplanning tot
dusver; aangesien besluit is om wel 'n verkiesingsdatum asook beoogde
kieser-getalle vas te stel – alles aspekte waaraan die VVK homself tot
dusver nie wou vasbind nie. Daar is egter gevoel dat die uitdagings in
die oë gekyk moet word en teiken-getalle en teiken-datums vasgestel
moet word, sodat almal van ons vaster doelwitte het om heen te werk.

'n Reusagtige hoeveelheid werk is in die loop van die beplanningsessie
geïdentifiseer; en die doelwitte wat gestel is kom neer op die
volgende:
*Beoogde aantal kieser-registrasies: minimum van 200 – 250 000 persone.
*Aankondiging van verkose Volksraad: 31 Mei 2011 (laasgenoemde datum
sal ook die 50-jarige herdenking wees van die totstandkoming van die
Republiek van Suid-Afrika op 31 Mei 1961)

Bogenoemde impliseer die volgende afsnydatums:
*kieser-getalle op 60 000 - kerf teen 30 Junie 2010.
*kieser-getalle op 150 000 - kerf teen 31 Desember 2010.
*kieser-getalle op 200 duidend tot 250 duisend teen 27 April 2011
*afsnydatum vir nominasies as kandidate: 4 Maart 2011.
*afsnydatum vir kieser-registrasies: 27 April 2011.
*Verkiesing om plaas te vind op 20 & 21 Mei 2011.
*Aankondiging van Volksraadslede en aflegging van ampsbeloftes deur
Volksraadslede op 31 Mei 2011.
*Fondse benodig en uitstaande (by benadering): R 5 000 000.

Die volgende is geïdentifiseer as take wat deurlopend uitgevoer sal
moet word in voorgenoemde proses: V
*Verspreiding van inligting.
*Intensiewer veldtog tot werwing van befondsing.
*Bemarking.
*Aanstelling van verdere Registrasie Beamptes.
*Terugvoer aan geregistreerde kiesers.
*Vergaderings van streekvlak tot op die vlak van huisvergaderings; om
gehou te word op plaaslike inisiatief met medewerking van die Sentrale
Komitee en/of Streek Koördineerders.
*Verdere klem op betrokkenheid van meewerkende organisasies.
*Motivering.

Deelnemers was dit eens dat voorgenoemde proses geensins deur 'n klein
groepie persone op die Sentrale Komitee en die huidige Streek
Koördineerders deurgevoer sal kan word nie. Ieder en elke individu sal
sy of haar bydrae moet maak op welke manier ookal om die wa deur die
drif te kry. Interessante voorstelle in hierdie verband (wat ook reuse
koste-besparing sal meebring) was dat persone wat aangrensend tot
snelweë of ander besige paaie en strate woon, groot borde op hulle
eiendom kan oprig met die VVK se kenteken en webwerf-adres.


Daar is ook besluit (weens die kritiese belangrikheid daarvan en die
reeds-bestaande werklas op die Sentrale Kantoor) om twee aparte
komitees vir Bemarking en Befondsing saam te stel.

Ter afsluiting is daar 'n aantal promosie-items by die Sentrale
Kantoor beskikbaar vir diegene wat dit in hulle werwing-veldtogte
nuttig kan gebruik: pragtige VVK hemde en besigheidskaartjies. Skakel
gerus vir Chantal as jy verdere idees of borgskappe in hierdie verband
aan die hand kan doen. In die woorde van Jan Celliers:

Wees sterk!
Daar's 'n nasie te lei, daar's 'n stryd te stry, daar's werk!
Daar's nie na guns of eer te kyk,
daar's nie na links of regs te wyk,
daar's net te swyg en aan te stryk - Komaan!


-Paul Kruger

Wednesday, December 16, 2009

Oranje Tuindienste

30 November 2009

GEAGTE VOLKSGENOOT

Dit is vir ons 'n groot voorreg om hierdie skrywe aan u te rig om ons
besigheid aan u bekend te stel.

Vanaf 1 Desember 2009 gaan Oranje Tuindienste aan die volgende gebiede
hul dienste kan lewer :
• Hele Pretoria gebied
• Verwoerdburg
• Kleinfontein
• Rayton
• Cullinan
• Bronkhorstspruit

Die dienste wat gelewer kan word sluit die volgende is:
• Sny van grasperke
• Sny van rante
• Versorging van blombeddings
• Verwydering van dooie blare
• Vee van plaveisels en stoepe
• Aanwend van onkruiddoder op versoek
• Verwydering van tuinvullis
• Snoei van bome en struike
• Verwydering van ongewenste bome
• Enige ander versoek in verband met u tuin
Die bogenoemde dienste kan op 'n weeklikse diensbasis gedoen word,
maar ook eenmalig.

Oranje Tuindienste gaan besigheid doen op bepaalde beginsels. Die
belangrikste is dat Oranje Tuindienste SLEGS van Volkseie arbeid
gebruik gaan maak. Ons is ook trots om te sê dat Oranje Tuindienste
net in Afrikaans gaan besigheid doen.

Skakel ons gerus vir 'n gratis kwotasie. Oranje Tuindienste staan
gereed om vir u tot diens te wees! U kan direk vir die skrywer skakel
by 082 737 6325.

Die uwe

Johan Beyers


http://www.oranjetuin.co.za/index2.html

Friday, November 27, 2009

Volkshulp - Kersaksie Desember 2009

Feestyd ?

Die jaar snel weer vinnig na 'n einde en almal sien uit na Desember.
'n Maand van rus, ontspan en kuier saam met familie en vriende. Daar
word druk beplan aan die vakansie wat voorlê. Diegene wat na die see
of vakansie oorde toe gaan, tref opgewonde die laaste reëlings.
Kersdag en nuwejaarsdag word haarfyn beplan: wie kom kuier, wat gaan
ons eet, watter geskenke gaan ons vir wie gee. Die moeilike jaar wat
verby is, is vir eers vergete.

Maar ongelukkig is Desember en veral Kersfees of selfs die nuwe jaar
nie iets waarna almal kan uitsien nie. Daar is volksgenote wat niks
het om na uit te sien nie. Hulle toekoms is donker. Geen werk, geen
besittings, geen geld, geen kersete, geen kersgeskenke, geen familie
wat kom kuier nie. Niks nie. En daar is niks om oor opgewonde te raak
nie, want sien, hulle kans op 'n beter lewe word in die wiele gery
deur rasstellende aksie en swart bevoordeling. Dit is mense wat ander
mense in die oë moet kyk net vir hulle daaglikse brood. Mense in wit
plakkerskampe en welsynshuise. En dit is ons mense. Hulle het nie
gevra om daar te wees of om in hierdie omstandighede te wees nie. Maar
hulle is daar en het hulp nodig.

Bravoland is 'n kubertuiste vir ons mense, maar ons voel dat ons mense
is meer as net diegene wat ons op die rekenaar kan besoek. Ons mense
is al ons volksgenote. Ook die wat hulle in sulke moeilike
omstandighede bevind. Dit is hartverskeurend om te dink dat daar
kinders is wat nie eers na 'n kersete kan uitsien nie, wat nog van 'n
kersgeskenk.

Daarom het ons in die verlede en wil ons weer nou in Desember na
hierdie mense uitreik. Ons beplan om op die 13de Desember die Lochvaal
deurgangshuis naby Vanderbijlpark te besoek. Die beplanning is dat ons
die oggend 'n erediens saam met die inwoners bywoon in hulle eetsaal
(wat ook as kerk gebruik word) wat gelei sal word deur een van
Bravoland se eie dominees. Net voor die diens wil ons vir elke inwoner
ook 'n Bybel gee - voedsel vir die siel. Na die diens wil ons graag
aan elke inwoner 'n geskenkpakkie uitdeel – van die kleuters tot die
bejaardes. Daarna gee ons aan elke inwoner 'n braaipakkie en braai ons
almal heerlik saam. Graag wil ons ook genoeg kosvoorraad aan die
deurgangshuis skenk om hulle verder deur te sien tot volgende jaar
toe.
Maar dit alles kos geld. En Bravoland verdien nie 'n inkomste nie.
Hierdie aksie is slegs moontlik omdat ons daartoe bydra. Daarom wil ek
graag 'n beroep op almal doen om te help deur 'n skenking te maak. Dit
kan geld, kos, geskenke, klere, enige iets wees – maar groot asseblief
help ons om hulle te kan help. Kom ons sit weer 'n glimlag op 'n kind
se gesig en 'n huppel in 'n ou mens se stap. Hierdie mense kan nie
help vir die omstandighede waarin hulle verkeer nie, maar ons beskeie
bydraes kan 'n baie groot verskil maak in hulle lewens. En dan nooi ek
u, kom saam met ons op die 13de na Lochvaal. Kom ons wys vir hierdie
inwoners daar is baie mense wat vir hulle omgee. U sal dan ook die
ware boodskap agter Kersfees self ervaar naamlik:

Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet
help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het:
Dit is saliger om te gee as om te ontvang.
(Handelinge 20:35)

Dit is altyd moeilik om te besluit wat moet nou eintlik in die
geskenkpakkies wees. Daarom wil ons almal se hulp inroep deur 'n
kompetisie te hou. Die inskrywing wat vorendag kom met die beste
geheel voorstel, dit beteken 'n voorstel van 'n geskenkpakkie vir elk
van die groepe hieronder, staan 'n kans om 'n splinternuwe NOKIA N73
mobiele telefoon te wen ter waarde van ongeveer R3,500.00. Omdat
Bravoland nie oor onbeperkte fondse beskik nie, beperk ons die waarde
per geskenkpakkie tot 'n maksimum van R50.00. Almal van Bravoland kan
deelneem. Die Volksraad sal die wenner bepaal en die Volksraad se
besluit is finaal. Die sluitingsdatum vir die inskrywings is middernag
van 3 Desember 2009. Die wenner sal op 10 Desember 2009 aangekondig
word. Daar is nie baie tyd oor nie en dié wat deelneem moet gou spring
en hul inskrywings instuur na: scburger@bravoland.co.za of u kan dit
faks na 086 666 7740. U voledige naam asook forumnaam en
kontakbesonderhede moet op u inskrywing verskyn.

Die inskrywing moet die volgende bevat:

- Voorgestelde inhoud (item moet beskryf word) van geskenkpakkie per groep;
- Voorgestelde leweransier van elke item;
- Prys vir elke voorgestelde item.

Die groepe is:

MANS
DAMES
DOGTERS - 1 tot 4 jaar
DOGTERS - 5 tot 9 jaar
DOGTERS - 10 tot 15 jaar
DOGTERS - 16 tot 18 jaar
SEUNS - 1 tot 4 jaar
SEUNS - 5 tot 9 jaar
SEUNS - 10 tot 15 jaar
SEUNS - 16 tot 18 jaar

Onthou u moet vir elke groep hierbo 'n geskenpakkie saamstel om te
kwalifiseer vir die prys!

Sou u graag 'n finansiële bydrae wou maak vir die kersaksie, dan kan u
dit steeds doen deur die geld te deponeer in een van die volgende
rekeninge:


Volkshulp Bankrekening Besonderhede

Naam: Bravoland Ondersteuners Klub
Bank: ABSA
Tipe: Tjek
Tak: Mosselbaai
Rek nr: 407 1429 502
Verwysing: Kersaksie

Rek naam : Oranjekas Spaar en Krediet
Rek no : 27 124 0490
Tak kode : 01 05 45 (Silverton)
Tipe : Tjek
Verwysing : Bravoland

Al die fondse wat so ingevorder word sal aangewend word vir Kersaksie 2009.

Kom ons maak van hierdie 'n grootse aksie.

Boere groete.

Wednesday, November 18, 2009

Verkennerspos PTA

Geagte Verkenner/Oud Verkenner/Belangstellende

Die Verkennersbeweging het die afgelope tyd 'n mooi groei getoon, en dit is
dalk te danke aan die suksesvolle aksies wat die beweging geloods het die
afgelope jaar of twee. Dit is egter so dat die Pretoria pos van die
Verkennerbeweging on-aktief geraak het. In die tye wat ons leef is dit
uiters noodsaaklik dat die pos weer aktief raak en groei.

Hiermee wil die Verkennerbeweging u dan uitnooi na die her-aktivering van
die Pretoria pos. Ons be-oog om die pos weer een van die sterkste en
grootste poste te maak van die Verkennersbeweging. Die besonderhede van die
byeenkoms is soos volg :

Datum : 26ste November 2009
Tyd : 18:30
Plek : TLU Gebou (Jamesrylaan 194, Silverton)

Versprei ook asb die e-pos aan al die volksgenote in die Pretoria omgewing
om hierdie geleentheid by te woon. Nuwe lede wat wil aansluit sal ook die
geleentheid he om ingestel te word as Verkenner.

Vir enige navrae skakel gerus die skrywer by 084 512 9035

Sien u daar!

Jan Beyers

Monday, November 16, 2009

Bravolanders en die Voortrekkermonument

Bravolanders was uiters verbaas toe die nuus breek dat hulle belet is
om bepaalde punte by die Monument te betree. Dat iemand belet word
weens sekere handelinge, kan moontlik meriete hè, maar om te
veralgemeen is werklik swak smaak.

Toe die President van die Verkenners later 'n skrywe ontvang waarin
te kenne gegee word dat mense wat hulle wangedra, optrede kan verwag,
het dit minder logies geword waarom die beletsel dan op Bravolanders
van toepassing gemaak kon word.

Bravolanders het talle jong, beskaafde burgers, maar ewe so is daar
die gryskoppe wat verstom is dat hulle nou ook belet word om daar
teenwoordig te wees. Nou blyk dit dat Bravolanders, en blykbaar ook
Verkenners daar mag opdaag, solank hulle nie inmeng nie.

Nou waarom dan nou 'n beletsel plaas op honderde Bravolanders waarvan
daar myns insiens hoogstens twee of dalk drie persone is wat vir die
Generaal probleme gegee het. Waarom nie maar vir die prokureur Jan vra
om vir hulle elkeen 'n brief te skryf en hulle belet nie; nee, nou
word ek en jy wat baie onskuldig is, onder dieselfde juk gebring. Dit
is nou nie iets om oor skaam te voel nie, want onskuldiges het nie
nodig om die Generaal te gehoorsaam nie. Onskuldige Bravolanders sou
daar kon opdaag en niemand sou dit kon waag om aan hierdie mooi
welopgevoede Bravolanders iets te doen nie.

Kom ons wees meer prakties. Hoe gaan enige iemand weet as ek en jy
daar opdaag dat ons as Bravolanders nie daar op gegewe plekke mag wees
nie – want wie gaan verklaar dat ons Bravolanders is. Tweedens: Soos
die Generaal dit gestel het, sal niemand iets aangedoen word wat binne
die wet optree nie. Ag nou ja, dan wil dit mos lyk asof enige
Bravolander wel besoek kon bring, solank daar nie "ingemeng" of moes
dit gelees het "vermeng" het met die vreemdes in ons poorte nie.

Maar daar is ook 'n ander sy van die saak: As Afrikaners nou hierdie
houding inneem, dan ontketen dit argwaan en aggressie – veel eerder
moes die Generaal 'n brief gerig het en al die Verkenners en
Bravolanders vriendelik uitgenooi het na die betrokke geleentheid. Dan
het hy die visie van 'n leier openbaar – en die guns van almal op hom
verenig. Dan, soos in elke geval, of dit nou wie is, kan daar opgetree
word teen enige persoon wat "vermeng" met die amptenary of wie ook
almal wat na aan die hart van die Generaal en sy prokureursvriend Jan
is.

Dit bring mens by die slotsom – enige persoon wat nie volgens die
reëls van die Generaal optree nie, staan 'n kans dat daar teen so
iemand opgetree kan word. Nou, waarom dan Bravolanders oor die
algemeen kom staan en kwaad maak. Dit wil dus voorkom dat die
Bravolanders wat tot hede 'n finansiële bydrae gemaak het, dit sal
moet heroorweeg.

Daar kan moontlik regsmening verkry word oor die wettigheid daarvan om
Bravolanders wat die afgelope vyf jaar nie naby die terrein was nie,
nou te belet om dit te betree. Die rede is eenvoudig: Daar is honderde
mense wat nie burgers is van Bravoland nie, wat weet dat ek en jy
Bravolanders is, en wat nou vraagtekens plaas oor ons handelinge.

Miskien het die Generaal nie mooi gedink nie – maar net miskien het hy
mooi gedink, en wil hy eerder die volksvreemdes by ons erfnis ontvang
– Bravolanders is tog Afrikaners.

Sou dit dalk die rede wees waarom die Generaal sulke snaakse dinge
toelaat, nee, sulke snaakse dinge reël dat hy nou die vreemde naam
gekry het van "pienk"? Ons sal ernstig moet besin oor ons finansiële
ondersteuning solank hy die amp van Generaal-van-die-Monument beklee.

Ons verfoei sy optrede – en ons sal ons nie deur sy
kamma-weermag-houding laat intimideer nie!!

Tuesday, November 10, 2009

Projek 2010

Daar word beraam dat reeds soveel as 20 000 Afrikaners vermoor is sedert
die ANC aan bewind gekom het in 1994.

Tans is daar 'n projek aan die gang om hierdie name te lys, net soos die
name van ons volk se 27 000 vroue en kinders wat onder die Engelse bewind
vermoor is, gelys is as deel van ons volk se historiese geheue.

Ons mag nie ons mense wat vermoor is, vergeet nie. Daarom is dit
noodsaaklik dat elkeen van hulle se name gelys en onthou moet word vir die
toekomstige geslagte.

Dit is 'n groot taak, en amptelike instellings wil geen samewerking gee
nie. Daarom word almal gevra om te help om hierdie besonderhede bymekaar te
maak.

Gaan besoek asb. http://www.projek2010.co.za en help met die
bymekaarmaak van die
data.

Stuur asb. hierdie e-pos ook aan ander volksgenote, landwyd en ook die
wat na die buiteland is juis as gevolg van hierdie wantoestande, sodat
hierdie projek momentum kan opbou. Daar word gepoog om hierdie databasis op
10/10/2010 te voltooi.


--
Werner Smook
Voorsitter: Pretoria Verkennersjeug

Monday, October 26, 2009

Oranjekas mediaverklaring

Oranjekas het op Saterdag die 24ste Oktober 2009, sy eerste Algemene
Jaarvergadering gehou in die Louis Buhrmann saal te TLU kantore in
Silverton. Tydens hierdie vergadering, is daar 'n mosie van dank en
vertroue in die direksie van Oranjekas ingestel en die positiewe gees wat
daar geheers het, sal lank onthou word. Hierdie positiewe gees heens
Oranjekas is ook 'n kenmerk van Oranjekas sedert sy ontstaan.

Oranjekas het die afgelope drie maande met meer as 60% per maand gegroei en
is die Spaar en Krediet Kooperasies in Suid-Afrika, met die grootste aandele
kapitaal. Daar is tans 55 Spaar en Krediet Kooperasies in Suid-Afrika.

Vyf direkteure moes volgens die statuut herkies word, tydens die Algemene
Jaarvergadering en die vergadering het sonder een teenstem die hele direksie
net so verkies vir die volgende jaar.

'n SKK (Spaar en Krediet-koöperasie) is 'n demokratiese, unieke,
lede-gedrewe, selfhelp Koöperasie. Dit word besit, beheer en bestuur deur
die SKK se lede wat 'n gesamentlike doel het. Die lede het ooreengekom om
hul geld in die SKK te spaar, en dan die geld te gebruik vir lenings aan
lede teen 'n redelike rentekoers. Rente word gehef teen die lenings, om die
beleggings se rente te dek, asook vir die administrasie en bestuur van die
SKK.

Daar word geen winste uitbetaal aan buite-instansies nie en die besluit oor
wat om met die winste te maak, berus by die lede.'n SKK is 'n demokratiese
organisasie wat beteken dat die lede 'n direksie verkies, en die direksie
verkies 'n bestuur om die SKK te bestuur en mense aan te stel. Daar word ook
'n toesighoudende komitee deur die lede verkies, om toesig te hou oor die
bedrywighede van die Direksie.

Mnr. Jan Beyers, Besturende Direkteur van Oranjekas, het tydens ''n
bespreking op die AJV wat gehandel het oor die toekomsblik van Oranjekas,
die volgende gesê : " Oranjekas kan en wil bankwese in Suid-Afrika
verander. Dit gaan Oranjekas regkry deur die die volgende te doen :

1. Voortbou op die goeie produkte en koerse van Oranjekas

2. Voortbou op Oranjekas se goeie diens in Afrikaans en in die kultuur
van die Afrikaner

3. Uitbreiding van Oranjekas se takke en filiale

4. Voortbou op sy goeie en bekwame personeel

5. Vestiging van Elektroniese Bankdienste

6. Skep van 'n groeifonds vir die ekonomiese vryheidstryd van die
Afrikaner "

Mnr. Beyers het sy toespraak afgesluit met die volgende verwerking van
Stephanus Roos se woorde die oggend voor die slag van Majuba: "Ek voel in my
hart dat ons ekonomies moet vry raak, want anders is ons verlore, maar hier
moet ons met mekaar 'n verbond maak om ekonomies vry te raak of almal te
val. Ons God sal ons help en ons SAL ekonomies vry raak, *WANT ONS KAN NIE
ANDERS NIE!*"

*Jan Beyers*

*Besturende Direkteur*

*Oranjekas Spaar en Krediet Koöperatief*

Reg no : 2009/003378/24

Tel : 0860 104 297 Faks : 086 536 5745

Epos : bestuur@oranjekas.co.za www.oranjekas.co.za

Neem uit die geskiedenis die goeie en besluit reg

President Paul Kruger het ons, sy nasate, die opdrag gegee om uit die
geskiedenis die goeie te neem en daarop 'n toekoms te bou.

Helaas gebeur dit nog te veel dat ons eerder verkies om die slegte uit
die geskiedenis te neem, en dan dit as rede voor te hou waarom ons
niks moet doen.

Tans word daar baie aandag gegee aan die herdenking van die
Reddingsdaadkongres sewentig jaar gelede. En inderdaad moet
Solidariteit gelukgewens word met hierdie inisiatief, want ook ons
jonger geslag word weer op hoogte gebring met wat kan gebeur as 'n
volk besiel word met 'n visie. Ja, ook 'n ekonomiese visie van
bevryding, selfonderhoud en uiteindelike ekonomiese vryheid.

Ons het al die opkoms van 'n volksekonomie gesien in die talle
volkseie ondernemings; 'n groep volkseie sakelui saam in die Oranje
Sake-Instituut; die vestiging van 'n Volksbank, Oranjekas; en die
bevordering van volkseie onderwys deur die BCVO en tuisonderwys.

Tog kry ons die idee dat selfs van ons eie mense en instellings nog
nie werklik oortuig is in die krag van eendrag nie. Ons sien nog te
veel spreekwoordelike wiele wat herontwerp word. Maar ons beleef ook
dat ons nog nie die vertroue het dat ons volk weer bereid sal wees om
sy offers te bring nie, en dan gebeur daar intussen dinge wat juis die
volk se vertroue ondermyn.

Die Bybel het ons al die beginsel geleer dat geen twee here gedien kan
word nie. Hierdie waarheid sal ons ook in ons volkslewe, ons
volksekonomie en in die algemeen moet besef en begin uitleef, want
slegs op daardie beginsel sal die volk ook weer sy dikwels geskokte
vertroue herstel.

As ons besluit op 'n volksekonomie, is dit 'n volksekonomie. Dan is
daar geen kompromis moontlik met die vyand se ekonomie nie. Ons kan
nie aanspraak maak op volkskap en volkondersteuning, maar intussen
agterlangs een of ander vorm van ondersteuning van die ANC-bestel
ontvang by wyse van skenkings of subsidies nie, wel wetende dat die
klomp Kommuniste een of ander tyd hulle pond vleis in ruil daarvoor
kom opeis. Ons kan ook nie ter wille van 'n goedkeurende knik van die
vyand, toelaat dat ons weer begin deur ons eie instellings met "net
een of twee" volksvreemdes te belas nie, want dit kom neer op
ekonomiese integrasie, kultuurintegrasie, en uiteindelik fisieke
integrasie. Dit is juis met daardie "een of twee" dat ons sportbeleid
die weg vir algehele oorgawe gebaan het. Ons moet uit die verlede die
slegte neem, en seker maak ons bewandel nie weer daardie weg nie.

Bowenal moet ons eerlik wees. As ons volkseie is, is ons honderd
persent volkseie, nie 99,9 persent nie. Ons moet wys dat ons vertrou
kan word, en daardeur kan ons weer by 'n ontnugterde volk vertroue
skep. Vergeet van slim "strategieë", want ons vyand is nie onder 'n
kalkoen uitgebroei nie. Eerlikheid en eerbaarheid sal die weg van die
toekoms moet wees. En ons hier by die Verkenners is bereid om heel
eerste die hand in eie boesem te steek om seker te maak dat ons die
pad reguit en eerlik stap, tot by algehele volksvryheid.

http://paardekraalverkenners.blogspot.com/2009/10/neem-uit-die-geskiedenis-die-goeie-en.html

Nuuskommentaar - Radio Pretoria

NUUSKOMMENTAAR - 26 Oktober 2009


Helpmekaar

Armoede ken nie kleur nie. Dié woorde het verlede week telkemale op
die Helpende Hand Reddingsdaadkongres weerklink. Natuurlik is dit so
dat almal wat arm is, swaar kry, maar in die nuwe gepolariseerde
Suid-Afrika is niks ongelukkig kleurloos nie.

Die hele grondslag van ons gemeenskap berus op ras. Daar is
rassekwotas vir alles: van sport tot werksgeleenthede, van grondbesit
tot subsidies aan universiteite en van skooltoelating tot hulp aan
armes. As dit nie daarvoor was nie, was dit nie nodig om 'n
reddingsdaadkongres vir arm Afrikaners te hou nie.

Dit is jammer dat daar weer mense was wat probeer het om hulle grys
politieke sienings op die kongresgangers af te dwing met nuttelose
debatte oor volksidentiteit en wie almal gehelp moet word. So al asof
die kongres maar net nog 'n nasiebou-oefening was.

Organiseerders van soortgelyke geleenthede in die toekoms moet miskien
maar kennis neem van hierdie mense se lojaliteite en hulle liefs nie
in die toekoms by volksake probeer betrek nie. Laat hulle in vrede om
die sogenaamde breër Suid-Afrikaanse of selfs Afrikaanse gemeenskap te
probeer dien.

Daar is alreeds genoeg struikelblokke in die pad van
armoedige-verligting vir blankes, wat deur die regering daar geplaas
is. Dit is nie nodig dat ons nog struikelblokke moet uitnooi om oor
ons pad te kom nie.

Dit word oral in die wêreld aanvaar dat Jode by Jode koop, dat
Portugese families in enige land mekaar ondersteun en dat Sjinese
sake-netwerke vorm. Dit is tyd dat ekonomies-kragtige Afrikaners
daarmee vrede maak dat niks wat hulle doen ooit goed genoeg gaan wees
om aan die eise van die ANC se Freedom Charter te voldoen nie, en dat
hulle net sowel betrokke kan raak by hulle eie mense se pogings om
ekonomies selfstandig te raak.

Daar is baie goeie besluite op die kongres geneem, onder andere dat
behoorlike navorsing gedoen moet word oor die omvang van die probleem.
Daar word losweg gepraat van 2,5 miljoen arm Afrikaners, maar niemand
weet regtig hoeveel dit is en hoe groot hulle nood is nie. Niemand
weet ook hoeveel kapitaal werklik in volksgeledere beskikbaar is nie.

Dit is ook positief dat taal verbind word aan ekonomiese
selfstandigheid en dat veral onderwys en opleiding in Afrikaans vir
die kongresgangers belangrik is.

Baie klem is ten regte geplaas op samewerking tussen organisasies, die
skep van netwerke, die rol van vestigingsprojekte en die belang van 'n
toekomsvisie, asook die stigting van 'n fonds vir die bemagtiging van
Afrikaner kinders.

Dit is alles baie goeie idees maar dit gaan net werk as ons almal as
volksgenote inklim en betrokke raak. Daar is nie meer tyd vir suur
druiwe, onderlinge twis en onbetrokkenheid nie. Daar is vanaand 'n
kind wat honger gaan slaap, daar is oor 'n maand 'n matrikulant wat
werk gaan soek, daar is 'n Afrikanerwinkel op die hoek, daar is 'n
gesin sonder 'n blyplek. Dit is waaroor dit gaan. Wat doen JY om te
help?


http://www.radiopretoria.co.za/Nuuskommentaar.php

Sunday, October 25, 2009

Solidariteit se konferensie preek integrasie

Die Voortrekkermonument se muur van herinnering word gebou met geld
wat van Afrikaners ingesamel is by die Voortrekkermonument. Op die
23ste Oktober 2009, was daar by die Voortrekkermonument 'n konferensie
oor Afrikanerarmoede gehou en is daar fotos geneem van volksvreemdes
wat hierdie muur van herinnering bou. Dit sou beteken dat
Afrikanergeld gebruik word om werk te verskaf aan volksvreemdes, dit
terwyl derduisende Afrikaners nie werk kan kry weens die rassistiese
regering se sogenaamde "affirmative action". Dit is hartseer dat die
bestuur van die Voortrekkermonument nie omgee vir arm, werklose
Afrikaners nie en eerder met Afrikanergeld, werk verskaf aan
volksvreemdes. Wat nog meer verbaas, is dat geen van die
konferensiegangers oor Afrikanerarmoede, 'n geluid gemaak het oor
hierdie toedrag van sake nie.


Miskien is dit nie so verbasend nie, veral as mens na die uitsprake
kyk wat by die konferensie gemaak is nie. Prof. Steve Booyens,
voorsitter van die Efficient Group, het gesê om werklik 'n verskil aan
armoede te maak, moet Afrikaners by die sakesektor in die breë en
swart ondernemings betrokke raak. In Steve Booysens se
reenboogdroomwereld bestaan daar seker nie iets soos Affirmative
Action en regstellende aksie nie. Of miskien is hy een van die
kruiperige Afrikaners wat hierdie rassistiese regeringstelsels as
nodig beskryf. Prof. Hermann Gilomee se oplossing vir die
Afrikanerarmoede, is 'n projekte wat fokus om meer bruin
Afrikaanssprekendes in universiteite te kry. Wat kleurlinge met
Afrikaner armoede te make het, sal net Gilomee seker verstaan en hoe
meer kleurlinge in universiteite die Afrikaners in plakkerkampe gaan
help, sal selfs Gilomee nie kan verduidelik nie. Dr. Danie Langner van
Solidariteit Helpende Hand, is voor die konferensie in die media
aangehaal dat hy te vertel gehad het dat "Armoede ken geen kleur nie."
Dit is so dat armoede geen kleur ken nie, die probleem is egter dat
Langer hierdie uitlating gebruik het om die feit dat in die Wes-Kaap
is 70% van die kinders wat deur onder meer die Skooltassie-projek baat
vind by Helpende Hand se opheffingswerk bruin kinders is, te
regverdig. Dit wil dus voorkom dat Solidariteit se Helpende Hand wat
voorgehou word as 'n helpende hand vir Afrikaners, eerder 'n helpende
hand is vir kleurlinge, maar met Afrikaners se geld. Daar mag dalk
gewonder word hoekom Oranjekas, die volkseie kooperatiewebank nie
genooi is na hierdie konferensie oor Afrikanerarmoede nie, maar neem
mens in ag dat Oranjekas onbeskaamd volkseie is, kan mens aanneem dat
Solidariteit van mening was dat Oranjekas nie sou inpas by hierdie
konferensie waar integrasie gepreek word nie. Dit blyk ook die rede te
wees hoekom die Oranje Sake Instituut nie genooi is nie. Die grootste
ironie van hierdie konferensie is dat Helpende Hand kwansuis uit die
geskiedenis gaan neem het wat goed is – die volkskongres van 1939 en
die daaruit voortspruitende Reddingsdaadbond. Solidariteit ken
blykbaar nie die geskiedenis van hierdie volkskongres nie, aangesien
hierdie kongres juis gebore is uit die Afrikaner se verset om nie te
integreer met die Engelse nie. As hulle werklik lesse uit die verlede
wou neem, sou hulle sien dat die Afrikaner se redding in 1939 was dat
die Afrikaner besluit het om nie met die Engelse te integreer nie en
daarom kon die Afrikaner homself red. As Solidariteit se oplossing vir
die Afrikanerarmoede is dat die Afrikaner moet integreer met die
kleurling, soos wat nou voorgehou word in hulle konferensie, dan is
dit geen oplossing vir die Afrikaner nie. Dit wil ook voorkom of
hierdie nie 'n glips is van Solidariteit nie. So byvoorbeeld het hulle
onlangs die kleurling Alan Boesak gebruik om die name van slagoffers
van plaasmoorde te lees oor hulle radiostasie. Op 'n karaoke-DVD van
tradisionel Afrikaanse liedjies wat AfriForum, stalmaat van
Solidariteit laat maak het, sing die Zoeloe, Mangosuthu Buthelezi,
Hoe ry die boere sit-sit so. Hierdie subtiele integrasie is ook nie
vreemd van die dampkring waarin Solidariteit hom tans bevind nie. Die
ATKV, FAK, AHI, Voortrekkers, Agri-SA, Erfenisstigting en Broederbond
het dieselfde integrasie strategie. Met hierdie integrasie strategie,
hoop hierdie organisasie blykbaar om die Afrikaner deel te maak van
die Nuwe Suid-Afrika. Gevolglik kan mens aanneem dat hulle die
vryheidseis van die Afrikaner nie ondersteun nie. Dit is seker ook
hulle goeie reg om nie die vryheidseis van die Afrikaner te ondersteun
nie, die vraag is egter wat gaan die vryheidstrewende Afrikaner maak
wanneer hierdie organisasies in die pad staan van vryheid?
Ben Geldenhuys
Paardekraal Verkenners