Tuesday, February 24, 2009

Bravoland Nuusbrief 02/2009

Geagte Bravolanders,


Bravoland is tans besig met 'n meningspeiling m.b.t die VVK. U insette
in die verband sal waardeer word. Volg die skakel:
http://www.bravoland.co.za/forum/index.php?topic=4621.msg56463;topicseen#new

Daar is 'n uitnodiging aan sakemanne gerig. Om die uitnodiging te
sien, volg die skakel:
http://www.bravoland.co.za/forum/index.php?topic=4641.msg56462;topicseen#new

Indien u weet van volksgenote wat op soek is na werk, daar is talle
werksgeleenthede vir volksgenote by hierdie skakel:
http://www.bravoland.co.za/forum/index.php?topic=4397.msg56432;topicseen#new

Indien u so bietjie inspirasie nodig het om deur die dag te kom, gaan
lees gerus hierdie gedagtes:
http://www.bravoland.co.za/forum/index.php?topic=4532.0

Moet ook nie vergeet van die Radio Pretoria spog-aand nie;
http://www.bravoland.co.za/forum/index.php?topic=4629.0

Laastens, indien daar iets is wat u bloot net nie kan glo nie en u 'n
antwoord daarop verlang, maak gerus 'n draai by hierdie draad en
vertel ons daarvan:
http://www.bravoland.co.za/forum/index.php?topic=4627.0

Vriendelike groete,

Ben

ns. Sien u almal by Majuba!

Nuus oor die VVK

2009 is verkiesingsjaar vir die politieke partye in Suid-Afrika; en
soos wat "die nasie" se verkiesingskoors oplaai in die aanloop tot
hulle beoogde verkiesingsdatum van 22 April 2009, merk die VVK dat
opgewondenheid ook in volksgeledere toeneem vir ons eie verkiesing wat
ons buite parlementêre verband gaan hou en waarin ons volk alleen gaan
stem. Ons beoog dus om hierdie rubriek weekliks op te dateer met die
nuutste verwikkelinge in die opwindende proses waarmee ons besig is.
Verwikkelinge wat – ons is dankbaar om te sê – uiters positief is en
'n duidelike sein uitstuur dat die momentum in vandag se
Bittereinder-geledere al vinniger toeneem om saam te span en ons
bedreigings, hoe donker ookal uit menslike oogpunt, met geloofsmoed
tegemoet te gaan:

1. Eerstens is ons lys van landwye Registrasie Beamptes flink op pad
na die 200-kerf (besoek die afdeling "Registrasie Proses" op hierdie
webwerf om te sien wie en waar hulle is); en is verdere Verkiesing
Streek Koördineerders aangestel by name Mnre. Henk van de Graaff
(Kiesstreek Noord-Transvaal), Izak van der Schyff (Kiesstreek
Noord-Vrystaat) en Andries Breytenbach (Algemene Verkiesing Streek
Koördineerder). Hartlik dank aan al hierdie persone – mag hulle groot
werk inspirasie wees vir al meer vrywilligers om die wa deur die drif
te help trek. (Van die os op die jas: Indien jyself of iemand wat jy
ken uit enige deel van die buiteland op besoek aan Suid-Afrika is of
hierheen op pad is, sal ons baie dankbaar wees om met jou in
verbinding te tree. Registrasie Beamptes wat in die buiteland woon- of
werk is nodig om ons vele volksgenote wat oor die wêreld versprei is,
behulpsaam te wees om in ons verkiesing te registreer).
2. Tweedens is die HNP se besluit van einde verlede jaar, naamlik om
ook sy deel in die aksie by te dra, aangevul deur verdere volkseie
organisasies. Luister gerus in hierdie verband na 'n onderhoud wat in
die volgende twee weke (beginnende 23 Februarie 2009) oor Radio
Pretoria uitgesaai gaan word in die program "Ons Vryheidsideaal" van
Prof. Hendrik van der Wateren. (Prof. Van der Wateren is Voorsitter
van die Afrikaner Front, 'n sambreelliggaam waarvan 25 volkseie
organisasies lid is). Ek spreek in die onderhoud ook ander
interressante aangeleenthede aan.
3. Mnr. Sakkie van der Schyff (Verkiesing Streek Koördineerder vir die
VVK se Kiesstreek Noord-Vrystaat) het eie inisiatief geneem en 'n
nie-amptelike groep op "Facebook" vir die Volksraad Verkiesing
Kommissie gestig. By "Facebook" ('n internet-gabaseerde sosiale
netwerk) kan enigeen gratis inskakel en kommunikeer, inligting
besigtig en nuus ontvang. Mnr. Van der Schyff het in die relatief kort
bestek van sy betrokkenheid by die VVK, 'n voorbeeld aan ons almal
gestel met sy groot motivering, gepaard met die inisiatief wat hy aan
die dag lê. Hartlik dank, Sakkie!
4. 'n Mooi bedrag is beskikbaar gestel vir die vrystelling van 'n
dokumentêre program wat in proses van vervaardiging is en op DVD
beskikbaar gemaak gaan word. Nie net ons verlede nie, maar ook ons
hede en ons toekoms gaan daarin behandel word teen die agtergrond van
dit waarmee die VVK besig is. Dit beloof om 'n monumentale werk te
wees!
5. Radio Pretoria saai tans ook 'n reeks advertensies uit ten bate van
ons eie verkiesing en dít wat daarvoor nodig is. HARTLIK DANK aan die
direksie van Radio Pretoria en besonderlik aan Mnr. Clem de Klerk en
sy voortreflike span.
6. Die VVK het 'n pos geskep vir 'n voltydse sekretaris of
sekretaresse wat oor uitstaande taal-, administratiewe- en
rekenaarvermoëns moet beskik. Die persoon sal ook oor gerekenariseerde
boekhou-vaardighede moet beskik, of dit moet aanleer. 'n
Vergoedingspakket word ooreenkomstig ondervinding en vermoëns
aangebied. Kontak ons gerus indien jy meen om die regte kandidaat te
wees.
7. Die laaste brokkie vir vandeesweek, is dat die VVK (in samehang met
ander volkseie organisasies) besluit het om 'n VVK-massaregistrasie
van kiesers onder ons eie volk te loods op die "nasie" se stemdag van
22 April 2009, wat juis 'n vakansiedag sal wees. Ons beoog om in
elkeen van die 15 kiesstreke landwyd soveel moontlike registrasiepunte
op 22 April op te rig. Indien jy hulp hiermee kan aanbied in welke
vorm ookal, kontak asseblief vir Paul Kruger op dringende basis.

Daarmee groet ons tot volgende week hierdie tyd, wanneer ek terugvoer
sal gee oor ons aktiwiteite by die Majuba-vieringe van 27 en 28
Februarie. Ons wil 'n dringende beroep op alle volksgenote doen om die
komende naweek na Majuba, ons vryheidsberg, op te ruk en ook die VVK
daar te besoek. Elkeen wat ons daar kan sien om die papierwerk af te
handel wat 'n verkiesing op internasionale standaard vereis, spaar ons
die geweldige bedrae wat dit deesdae kos om die land te deurkruis. Van
ons kant af geld dit veral die volksgenote wat ver van Pretoria woon.
Kom ons wees dus in reuse getalle daar!

Groetnis van huis tot huis –
Paul Kruger
22 Februarie 2009
Voors.: Sentrale Komitee