Tuesday, January 26, 2010

Nuus van die VVK

Op Saterdag 23 Januarie 2010 het die VVK onder die uiters bekwame
leiding van Mnr. Dolf Buitendag 'n strategiese beplanningsessie gehou;
bygewoon deur die Sentrale Komitee, Verkiesing Streek-Koördineerders
vanoor die hele land; asook ander belangstellendes (waaronder die
nimlike en skerpsinnige Professor Adriaan Pont – dankie vir die
insette, Prof!).


Die beplanningsessie vorm 'n waterskeiding in VVK-beplanning tot
dusver; aangesien besluit is om wel 'n verkiesingsdatum asook beoogde
kieser-getalle vas te stel – alles aspekte waaraan die VVK homself tot
dusver nie wou vasbind nie. Daar is egter gevoel dat die uitdagings in
die oë gekyk moet word en teiken-getalle en teiken-datums vasgestel
moet word, sodat almal van ons vaster doelwitte het om heen te werk.

'n Reusagtige hoeveelheid werk is in die loop van die beplanningsessie
geïdentifiseer; en die doelwitte wat gestel is kom neer op die
volgende:
*Beoogde aantal kieser-registrasies: minimum van 200 – 250 000 persone.
*Aankondiging van verkose Volksraad: 31 Mei 2011 (laasgenoemde datum
sal ook die 50-jarige herdenking wees van die totstandkoming van die
Republiek van Suid-Afrika op 31 Mei 1961)

Bogenoemde impliseer die volgende afsnydatums:
*kieser-getalle op 60 000 - kerf teen 30 Junie 2010.
*kieser-getalle op 150 000 - kerf teen 31 Desember 2010.
*kieser-getalle op 200 duidend tot 250 duisend teen 27 April 2011
*afsnydatum vir nominasies as kandidate: 4 Maart 2011.
*afsnydatum vir kieser-registrasies: 27 April 2011.
*Verkiesing om plaas te vind op 20 & 21 Mei 2011.
*Aankondiging van Volksraadslede en aflegging van ampsbeloftes deur
Volksraadslede op 31 Mei 2011.
*Fondse benodig en uitstaande (by benadering): R 5 000 000.

Die volgende is geïdentifiseer as take wat deurlopend uitgevoer sal
moet word in voorgenoemde proses: V
*Verspreiding van inligting.
*Intensiewer veldtog tot werwing van befondsing.
*Bemarking.
*Aanstelling van verdere Registrasie Beamptes.
*Terugvoer aan geregistreerde kiesers.
*Vergaderings van streekvlak tot op die vlak van huisvergaderings; om
gehou te word op plaaslike inisiatief met medewerking van die Sentrale
Komitee en/of Streek Koördineerders.
*Verdere klem op betrokkenheid van meewerkende organisasies.
*Motivering.

Deelnemers was dit eens dat voorgenoemde proses geensins deur 'n klein
groepie persone op die Sentrale Komitee en die huidige Streek
Koördineerders deurgevoer sal kan word nie. Ieder en elke individu sal
sy of haar bydrae moet maak op welke manier ookal om die wa deur die
drif te kry. Interessante voorstelle in hierdie verband (wat ook reuse
koste-besparing sal meebring) was dat persone wat aangrensend tot
snelweë of ander besige paaie en strate woon, groot borde op hulle
eiendom kan oprig met die VVK se kenteken en webwerf-adres.


Daar is ook besluit (weens die kritiese belangrikheid daarvan en die
reeds-bestaande werklas op die Sentrale Kantoor) om twee aparte
komitees vir Bemarking en Befondsing saam te stel.

Ter afsluiting is daar 'n aantal promosie-items by die Sentrale
Kantoor beskikbaar vir diegene wat dit in hulle werwing-veldtogte
nuttig kan gebruik: pragtige VVK hemde en besigheidskaartjies. Skakel
gerus vir Chantal as jy verdere idees of borgskappe in hierdie verband
aan die hand kan doen. In die woorde van Jan Celliers:

Wees sterk!
Daar's 'n nasie te lei, daar's 'n stryd te stry, daar's werk!
Daar's nie na guns of eer te kyk,
daar's nie na links of regs te wyk,
daar's net te swyg en aan te stryk - Komaan!


-Paul Kruger