Monday, April 27, 2009

BELANGRIKE VVK NUUS

Beste Volksgenote,

Na afloop van die Majuba-naweek in Februarie, is die VVK weer 'n hele
ent verder in die pad af met die taak om 'n verkiesing onder ons eie
volk te fasiliteer. Groot dank aan almal wat hulle bydrae daartoe
gelewer het!


Op 25 Februarie is Paul Kruger (VVK Voorsitter) genooi deur 'n
sub-komitee van Transvaalse Landou-Unie SA, bestaande uit 'n aantal
van hulle oud-Presidente, om die VVK se rol en strategie aan hulle
uiteen te sit met die oog op moontlike samewerking van TLU SA se kant
af. Die sub-komitee sou terugvoer gee aan TLU SA se bestuurstrukture
ten opsigte van die gesprek, wat uiters positief verloop het. By
skrywe hiervan (26 April 2009) sien ons nog uit na 'n amptelike
besluit deur TLU SA, om ook op staatkundige terrein die wa saam met
die VVK te help trek in ons volk se epiese stryd om oorlewing. Die
sorgwekkende is dat dit die volk 15 jaar geneem het net om met Stap 1
te begin: Die verkiesing van leiers wat met die spesifieke mandaat
beklee is om ons eis vir selfbeskikking in ons eie gebied regmatig te
kan stel. ALLE hande word nou benodig!


Op 12 Maart 2009 het Paul Kruger 'n radio-onderhoud met Prof. Hendrik
van der Wateren (Voorsitter van die Afrikaner Front, 'n
sambreel-liggaam met 25 lid-organisasies waaronder Radio Pretoria, TLU
SA, die HNP, GHA en andere) gevoer. Die Afrikaner Front se
doelstelling word in sy grondwet uiteengesit as selfbeskiking vir ons
volk, en Prof. Van der Wateren het dan ook tydens die onderhoud
bevestig dat die Afrikaner Front-bestuur 'n amptelike besluit geneem
het om die VVK se verkiesingsinisiatief te steun. Ons het met
dankbaarheid daarvan kennis geneem, en doen hiermee 'n beroep op alle
volksorganisasies wat nog nie lid van die Afrikaner Front is nie, om
so gou moontlik julle gewig daar in te gooi. Organisasies wat reeds
lede van die Afrikaner Front is word genooi om dringend met die VVK te
skakel vir beplanning rondom julle bydrae tot realisering van ons
volksverkiesing.


Intussen het ook 'n klomp hande op die dek bygekom as Registrasie
Beamptes en Verkiesing Streek Koördineerders. In laasgenoemde verband
is ons dankbaar teenoor Ds. Du Plessis (vir die streek Wes-Transvaal),
Dr. Pieter Möller (Algemene Verkiesing Streek-Koördineerder), Dr.
Corné van der Walt (Chicago, VSA), G.P de Kock (Orania / Noord Kaap),
Roché van Heerden (Graaff-Reinet / Oos-Kaap), Kobie van der Hoven
(Algemene Verkiesing Streek-Koördineerder en verleen ook hulp aan
Sakkie van der Schyff in die streek Noord-Vrystaat) en Marieke Smuts
(België).

As iemand vanuit die buiteland in Suid-Afrika op besoek is, hoor ons
graag daarvan sodat ons die nodige papierwerk in plek kan kry vir
aanstelling as Registrasie Beamptes en Streek Koördineerders oorsee
wat ons vele volksgenote in verstrooiing kan bedien om geregistreer te
kom. Dit spaar die VVK die onkoste van oorsese reise!


Op 2 April 2009 het die VVK Sentrale Komitee 'n voorlegging namens die
VVK gedoen by die Afrikaner / Zuma beraad en die strekking daarvan
word in die volgende media-verklaring weergegee:


MEDIA-VERKLARING DEUR DIE VVK
na aanleiding van die byeenkoms:

"Afrikaner-leiers in Dialoog met ANC President, Jacob G. Zuma
gehou op Donderdag, 2 April 2009 te Sandton, Johannesburg

Die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) was deur die fasiliteerder
van die byeenkoms: "Afrikaner-leiers in Dialoog met ANC President
Jacob Zuma" na die genoemde byeenkoms uitgenooi. Mnr. Paul Kruger,
Voorsitter van die Sentrale Komitee van die VVK, het die byeenkoms op
2 April 2009 bygewoon en 'n voorlegging daartydens gelewer.

Die Afrikaner-organisasies op die byeenkoms het oor 'n wye spektrum
gewissel van Kerke, kultuur-organisasies, Landbou-organisasies,
vroue-organisasies en die Broederbond tot die Orania-Inisiatief.
Tydens hulle voorleggings, het geen van hierdie organisasies ons volk
se strewe om onsself in ons eie staat te regeer, voorgedra nie.

Mnr. Paul Kruger het die aanwesiges in die volgende terme toegespreek:

1. Dat die Afrikaner- "leiers" op die byeenkoms GEENSINS die politieke
leiers van die Afrikaner is, soos wat Mnr. Zuma die leier van sy mense
is nie; omdat hulle nie demokraties daartoe verkies is nie, soos wat
Mnr. Zuma tot leier van sy belangegroep verkies is.

2. Dat hierdie sogenaamde Afrikaner "leiers" gevolglik GEEN mandaat
het om enige politieke uitsprake namens die Afrikaner te maak nie; en
ten beste beskou kan word as leiers van sekere inisiatiewe wat onder
'n deel van die Afrikanervolk aan die gang is.

3. Dat die Afrikanervolk sedert 1994 inderwaarheid leierloos en
polities onthoof is.

4. Dat die Volksraad Verkiesing Kommissie juis besig is om hierdie
politieke onthoofding op te los, synde in proses om 'n Volksraad te
laat verkies. Die volksverkiesing wat die VVK in proses is om te
fasiliteer, sal 'n vry; regverdige en demokratiese VOLKSverkiesing
wees.

5. In daardie verkiesing word gewone mense tans in die
Boere-Afrikanervolk die geleentheid gebied om as kiesers op ons eie
kiesersrol te registreer; uit vrye keuse Volksraadslede te nomineer;
en nadat die kieserregistrasietydperk afgeloop is, sal hulle uit vrye
keuse vir diegene kan stem wat hulle met hulle politieke toekoms
vertrou.

6. Eers daarna sal die Afrikaner weer oor politieke "leiers" beskik
wat die leiding betreffende ons uiteindelike politieke toekoms kan
neem en in sodanige verband namens ons volk sal kan praat.

7. Dit is prakties onmoontlik vir een Regering om in die uiteenlopende
behoeftes van verskillende volke te voorsien in een Staat met skaars
hulpbronne, deur wetgewing wat almal akkomodeer. Dit is ook die geval
in Suid-Afrika.

8. Dat 'n wesenlike deel van ons volk nie die huidige Brits-koloniale
grense van Suid-Afrika aanvaar nie, en selfbeskikking in ons eie
gebied opeis.

9. Dat ons Volksraad, sodra dit tot stand gekom het, hierdie eis sal
hanteer ooreenkomstig die vereistes van die Volkereg.

- Paul Kruger
6 April 2009


Intussen werk ons hard aan die draaiboek van die televisie-produksie
wat ons gratis by wyse van DVD gaan versprei. Weereens: As iemand
interressante video-materiaal het uit welke tydperk ookal, laat weet
asseblief!

Julle het sekerlik opgemerk dat ons webwerf ook intussen in 'n ander
klas inbeweeg het, en hiervoor ons opregte dank aan die jonge heer
Quintin Diederichs. Ek voorspel dat hy nog diep spore in die
vryheidstryd gaan trap! Danksy Quintin se uitsonderlike vaardighede op
die internet-terrein is hy gevra om as Openbare Betrekkinge Beampte
vir die VVK op te tree, en enigiemand wat ons wil kontak insake e-pos
kommunikasie, webwerwe of Internet-navrae kan sommer direk met hom
skakel by 076 943 2214 of vvk@drommedaris-golf.com

Ja, en so het die nasionale verkiesing van 2009 intussen verbygegaan
sonder - wil ek my verstout om te sê - dat dit ons nader gebring het
aan ons strewe om onsself weer in ons eie vaderland te regeer. Van die
VVK se kant af is ons dankbaar dat talle vryheidsgesindes wat wel in
die nasionale verkiesing gestem het, nou reeds ook hulle gewig ingooi
by die volk se eie verkiesing wat die VVK fasiliteer – 'n verkiesing
wat gaan uitloop op 'n mandaat aan verkose leiers wat die eis vir
selfbeskikking sal deurvoer.

Laat ons almal in snelrat inbeweeg met die harde werk op hande; kontak
die Sentrale Komitee met enige vorm van hulp wat jy kan aanbied, en
onthou dat ons niks beter of slegter is nie as ons voorouers wat net
sulke geweldige uitdagings te bowe moes kom – en te bowe gekom het –
ter wille van vryheid. ONS KAN DIT OOK DOEN, ONS GAAN DIT OOK DOEN!

Groetnis tot volgende keer.

"Sukses is nie 'n ongeluk nie – dit is die resultaat van 'n intelligente poging"

Uhuru-dag

Vandag, die 27ste April, vier die bewindhebbers van die nuwe
Suid-Afrika vryheidsdag, of soos hulle vryheid noem uhuru.
Dit is ironies dat vryheid gevier word in 'n land waar soveel mense
geen vryheid het nie. Trouens is dit slegs Jakob Zuma en sy binnekring
wat vryheid geniet. Zuma is nou vry van vervolging en ook saam met sy
binnekring vry om te maak met SA wat hulle wil.

Ons volk se vryheid is sedert die instel van vryheidsdag, daagliks
meer en meer ingeperk deur die terroriste bende wat Suid-Afrika
beheer. Die grondwet wat sekere vryhede beloof, is ook nie die papier
werd waarop dit geskryf is nie.

Hierdie volk word egter nie so maklik onder gekry nie. As die eens
magtige Britse empire dit nie kon doen nie, hoe gaan 'n Soweto straat
bende dit reg kry?

Vir lank was hierdie volk verslae oor die gebeure in die eens pragtige
Suid-Afrika, maar net soos na die tweede vryheidsoorlog, is hierdie
volk weer aan die opstaan.

Aan die stryders van die volk wil ek se, julle verdien ook 'n
vakansiedag. Dit is nou wel nie ons volk se vryheidsdag nie, maar ons
kan steeds die dag gebruik en hom bloot 'n ander naam gee.

Daar is reeds 'n braaidag, laat ons hierdie dan potjiekosdag herdoop.
Laat ons die dag gebruik om ons te herlaai vir die stryd en wanneer
ons vry is, dan bepaal ons self wanneer ons vryheidsdag vier!

Saturday, April 25, 2009

VVK (Volksraad Verkiesing Kommissie)

Inligting 4 - Gestuur 25 April 2009

Met die Suid-Afrikaanse veelrassige verkiesing agter die rug, kan ons
nou fokus op ons volk se volksraad verkiesing. By die OVK proses het
jou stem nie vir veel getel nie, by die VVK proses maak jou stem egter
'n goot verskil. Dit is dus belangrik dat jy registreer en vir al die
volksgenote wat jy ken vertel van die proses.

Die VVK se Facebook groep
http://www.facebook.com/group.php?gid=48129031422 staan nou op 400
lede. Dit sou beteken dat die groep groei met sowat 100 lede per maand
en alhoewel dit goed is, is dit nie goed genoeg nie. Doen dus iets vir
jou volk vandag en nooi mense om aan te sluit! Ek lees op die muur en
op van die gesprek forums dat van die lede ongeduldig raak. In die
verband wil ek President Burger aanhaal: "alles sal reg kom, as elkeen
sy deel doen." As jy ongeduldig is oor die proses, nooi, nooi en nooi
nog!

Al ooit gewonder waarom die VVK, of miskien is al die inligting m.b.t
die proses bietjie veel en soek jy na 'n kort verduideliking? Gaan dan
onmiddelik na die groep, daar is twee nuwe besprekingspunte wat
hierdie versigting sal bevredig. Daar is ook 'n insiggewende skrywe
van Paul Kruger genaamd "een geslag na 1994". Dit is 'n redelike
bondige stuk werk (heel moontlik meer leeswerk as wat 'n
Matriekleering in 'n hele jaar lees in die Nuwe Suid-Afrika se
staatskool), tog vervat dit belangrike inligting. Gebruik dus een van
die vakansiedae en lees die stuk gerus.

Ek was onlangs in Zimbabwe om te gaan kyk hoe gaan dit met ons
volksgenote daar. Hulle het ongelukkig te lank gewag voor hulle wakker
geskrik het en besef het die skrif is aan die muur, donker Afrika het
hulle ingehaal. Dankie dat u help dat dit nie met ons ook gaan gebeur
nie. Dankie dat u besef; "alles sal reg kom, as elkeen sy deel doen."

Vriendelike groete,


Ben Geldenhuys

Friday, April 24, 2009

Twee jaar van Volksarbeid

Dit is vandag presies twee jaar sedert Bravoland haar deure oop gemaak
het vir volksgenote. Ek onthou nog die opgewondenheid oor elke nuwe
lid van aangesluit het....30.....50....100 tot vandag, twee jaar later
waar die lede tal op 1172 staan.

Ek onthou die vasberadenheid met die beplanning en uitvoering van
verskeie versetaksies en die deernis waarmee volkshulp aksies gedoen
is. Ek onthou die warm debatte maar ook die lekker gesels op die
forum. Ek dink terug aan die trots waarmee die Triomf vlag in gebruik
geneem is en die talle historiese plekke waar Bravolanders al die vlag
laat wapper het; Majuba, Paardekraal, Genl de Wet se Plaas, die
Voortrekkermonument en verskeie ander. Die gedagte dat die vlag ook op
verskeie plekke reg oor die wereld wapper, laat 'n warm trotsgevoel in
my hart. Ek onthou die opgewondenheid met die ontwerp van Bravoland se
landswapen en die verligting toe daar uit eindelik op een besluit is.

Ek beleef al die volksaksies waar Bravolanders by betrokke is. Die
Oranjekas, die Oranje Sake Instituut en die verskeie Oranje Sakekamers
wat ten doel het om ons volksekonomie weer te laat herleef. Ek sien
die Bravolanders by die Verkenners Beweging, by die Afrikanerfront en
verskeie ander volksgerigte organisasies.

Met die Volkskultuurdag wat hierdie jaar weer op die 30ste Mei 2009
gevier word by die historiese Paardekraal Monument, dink ek terug aan
2008 se fees en hoe hard die Bravolanders aan en by die fees gewerk
het. Ek onthou hoe trots ek was by die Radio Pretoria spogaand, nie
net omdat Bravoland een van die borge was nie, maar ook oor al die
Bravolanders wat daar was en selfs oor die Bravolanders wat deel was
van die reelings kommittee.

Dit alles onthou ek en dit verbaas my nie, want in Bravoland word daar
gepraat maar ook gedoen. Ek besef ook dat Bravoland vir ewig sal
bestaan, want Bravoland is 'n gedagte. 'n Gedagte wat leef in die
harte van haar burgers. 'n Gedagte wat op geen beter manier verwoord
kan word as -
In Geloof, Ons vryheid!

Op hierdie tweede verjaarsdag van Bravoland, is dit ook vir my
aangenaam om die nuut verkose Volksraadslede geluk toe te wens en ook
sterkte. Aan die uittredende Volksraadslede wil ek bedank vir die
diens wat hulle aan Bravoland gelewer het.

Met dank,

Ben Geldenhuys

http://www.bravoland.co.za

'n Volkseie ekonomiese ekostelsel

Op die 21ste April 2009 het die Oranje Sake Instituut, 'n samebindende
organisasie van die Oranje Sakekamers, hulle maandelikse vergadering
gehou by Jasmyn naby Hartbeespoortdam. Die positiewe gesindheid van
die teenwoordigdes was ooglopend sigbaar en dit kan ook nie anders
nie, met al die postiewe vordering wat daar gemaak word in die
herlewing van 'n volksekonomie. Die bedrywighede van die verskillende
sakekamers is bespreek en daar is kennis geneem van verskeie nuwe
inisiatiewe wat vanuit die sakekamers ontstaan. Ook die stigting van
verskeie nuwe sakekamers is bespreek en die lede van die Oranje Sake
Instituut was verheug om te verneem dat Afrikaner sakemanne die
gedagte van die Oranje Sakekamers so goed ontvang.

Tydens die besoek het die eienaar van Jasmyn, wat ook 'n lid is van
die Oranje Sake Instituut die teenwoordiges op 'n toer geneem van die
onderneming en die plaas. Tydens die toer het hy verduidelik dat hulle
die konsep van permakultuur volg. Permakultuur berus daarop dat niks
vermors word nie en kan ook as 'n ekonomiese ekostelsel beskryf word.
In enige vervaardigings proses is daar altyd afval of "oorskiet",
binne die permakultuur word hierdie oorskiet benut om sodoende winste
te vergroot. 'n Eenvoudige voorbeeld hiervan, by Jasmyn word daar o.a
groente en vrugte verkoop. Daar word ook konfyt verkoop. Vrugte wat
dalk nie so mooi op die oog is nie, word dan gebruik om hierdie konfyt
te maak. Indien Jasmyn egter nie konfyt gemaak het nie, sou dit
beteken dat hulle die vrugte wat nie so mooi gelyk het nie weens
misvorming, moes weg gooi, omdat dit nie sou verkoop nie. Dit sou
beteken dat hulle die ander vrugte vir 'n groter prys moes verkoop om
dieselfde wins te realiseer. Aangesien hierdie misvormde vrugte nou
egter by 'n ander afdeling gebruik kan word, is daar geen nodigheid
vir die prys van die orige vrugte om verhoog te word nie.

Die voordele is ooglopend. Die vrugte by Jasmyn is bekostigbaar, van
'n goeie gehalte en hulle maak steeds 'n wins. Die melkery,
kaasfabriek, bakery, groenteplaas en restaurant vorm almal deel van
hierdie ekonomiese ekostelsel waar die een afdeling die ander afdeling
voed. Hierdie wederkerende voeding tussen die afdelings is nie net vir
die verskillende afdelings tot voordeel nie, maar ook vir die
gewaardeerde kliente. So byvoorbeeld is die groente, vrugte, slaaie en
ander voedsel in die restaurant plaasvars, aangesien dit van die plaas
binne die stelsel ontvang word. Die plaas het 'n mark vir die produkte
wat daar verbou word en kan dit lewer sonder duur verpakking, vervoer
of verskeie middelmanne. In kort, almal wen.

Mnr Ben Geldenhuys van die Oranje Sake Instituut het die hoop uit
gespreek dat die Afrikaner 'n ekonomie kan vestig wat op dieselfde
beginsels gebaseer is. Hy het bygevoeg dat so 'n Afrikaner ekonomiese
ekostelsel die Afrikaner sal verskans teen die huidige wereld
ekonomiese krisies en dat die Oranje Sakekamers en Oranjekas die begin
punt is van so 'n Afrikaner ekonomiese ekostelsel.

Wednesday, April 22, 2009

Sunday, April 19, 2009

Bravoland

Wat is Bravoland?


'n Kuberstaat vir die Bloedrivier Geloftevolk! Bravoland het tot stand
gekom, grensloos, onafhanklik, uit die versugting van die Afrikaner/
Boerevolk na vryheid!

Elke lid van die Bloedrivier Geloftevolk en ALMAL wat hulself met die
stryd van die Bloedrivier Geloftevolk vereenselwig is welkom in
Bravoland. U word vriendelik uitgenooi om deel te word van die
snelgroeiende kuberstaat.

Bravoland is uit die volk vir die volk... en moet (in spesifiek die
forum) gesien word as 'n verhoog. 'n Verhoog waar u as burger kan
opstaan, u kennis en ondervinding kan aanbied in die toepaslike
"departement", hetsy dit onderwys, energiesake, veiligheid, finansies,
ensovoorts is.

Bravoland het geen politieke affiliasie nie, maar deur die samewerking
van alle burgers (van alle Afrikaner/Boere-organisasies en/of partye,
moet Bravoland gesien word as u spreekbuis – waar u u vrese kan
openbaar, u vrae en kwellinge kan verwoord, u siening mag uitlig en in
die proses ook deur kundige kennis gehelp en/of gelei kan word.

Daarom dat Bravoland geskoei is vanuit 'n volkstaatkonsep. Die doel
van die "kuber-volkstaat" is dan ook om u as burger aan te hoor.

Feite is dat die Afrikaner-kultuur, -geloof, taal en geskiedenis
vandag onder ontsaglike druk is en dat dit stadig besig is om verlore
te gaan. Hier in Bravoland sal daar pogings aangewend word om, deur
kundige leiding en bestuur, juis ook hierdie kwessies aan te spreek en
dan ook met daadwerklike optredes te poog om dit te implementeer.

Word deel van Bravoland. Kom deel u kennis en ervaring en help om ons
volk weer op te bou.

Word nou deel van die toekoms, sluit aan by Bravoland.

http://www.bravoland.co.za

Monday, April 6, 2009

Afrikanerfront Mediaverklaring : 6 April 2009

Die Afrikanerfront, 'n oorkoepelende organisasie van 24
volksorganisasies wat selfbeskikking en onafhanklikheid van die
Afrikaner- of Boerevolk nastreef, het kennis geneem van die gesprek
van die ANC-leier, mnr. Jacob Zuma, met verskeie Afrikaanse
organisasies. Die Afrikanerfront stel dit duidelik dat die Afrikaanse
organisasies geen mandaat gehad het om namens die hele Afrikanervolk
aan die gesprek deel te neem nie, en die feit dat 'n meningsopname
deur Beeld daarop gedui het dat soveel as 97% van die respondente Zuma
as 'n manteldraaier beskou en hom nie vertrou nie, kan 'n aanduiding
wees dat van die organisasies wat aan die gesprek deelgeneem het, uit
voeling is met die gevoel van hulle lede.


Die Afrikanerfront het egter met waardering kennis geneem van die feit
dat die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) dit uitdruklik aan Zuma
gestel het dat 'n beduidende deel van die Afrikanervolk nie daarin
belangstel om in een staat met die ANC-president te woon nie, en dat
die Afrikaner sy eis op selfbeskikking nooit sal laat vaar nie.


Tydens die Afrikanerfront se vergadering wat Saterdag in Pretoria
plaasgevind het, is besluit om solank 'n uitvoerende gesag daar te
stel wat Afrikaners se belange kan bevorder. Verskillende Direktorate
sal binne die volgende twee maande gevestig word, waaronder 'n
Direktoraat vir Volksonderwys, 'n Direktoraat vir Volksveiligheid, 'n
Direktoraat vir Volksekonomie en verskeie ander.


Sodra die VVK sy Volksraadsverkiesing suksesvol afgehandel het, sal
dit die wetgewende gesag uitmaak wat dan saam met die uitvoerende
gesag sal werk, wat nou reeds in plek gestel word.


Daar is ook besluit dat Afrikaner studente op die tradisioneel
Afrikaanse universiteite, saamgesnoer sal word in 'n nuwe Afrikaner
Studente-organisasie wat hulle sal bystaan met sake wat vir hulle van
belang is.


Henk van de Graaf

Sekretaris

Sunday, April 5, 2009

Volkskultuurdag 30 Mei 2009

Voorlopige program:

10:00 - 10:10 Opening en verwelkoming

10:10 - 10:30 Vlaghysing seremonie

10:30 - 11:00 Perde optrede - Friesperde

11:00 - 12:00 *Volkspele optrede

11:30 - 12:00 Spreker

12:00 - 13:00 Kunstenaars - minder bekend

13:00 -*14:00 Middagete met agtergrond musiek

14:00 - 14:45 Kunstenaars - minder bekend

14:45 - 15:00 Bedanking van borge

15:00 - 16:00 Bekende Kunstenaar*

16:00 - 17:00 Boere-orkes

17:00 - 17:10 Die stem en vlagstryking

17:10 - Laat. - Bring en braai.

Die "bekende kunstenaar" sal binnekort bekend gemaak word.


Geagte Bravolanders,

Daar is 'n reuse poging om hierdie dag groter en beter te maak as die
ander drie feesdae wat verlede jaar by Paardekraal aangebied was.

In hierdie verband het ons reeds 'n baie bekende kunstenaar bespreek,
wat ek glo sommer heelwat mense gaan lok. Ook gaan ons hierdie keer
ons bemarkingspoging vergroot. Meer baniere, meer plakate, meer
koerant advertensies en natuurlik internet addvertensies. Ons is ook
baie gelukkig om DRIE mediaborge te he:

1. Op jou Voorstoep ('n plaaslike koerant)
2. Die Afrikaner
3. Radio Pretoria!!

Natuurlik is ons baie dankbaar vir die mediaborge en glo dit gaan nog
meer voete op die feesgronde plaas.

Soos julle kan sien gaan hierdie 'n groot fees wees. 'n Groot fees het
ongelukkig ook groter uitgawes en in die verband het ons reeds 'n paar
borge. Indien enige iemand of enige organisasie belangstel om as borg
op te tree, kontak my gerus vir besoderhede. Ek belowe dat die
borgskap ten volle die moeite werd gemaak sal word!

Daar gaan heelwat stalletjies wees. Selfs meer as in die verlede.
Indien iemand belangstel om 'n stalletjie te bekom, kontak my gerus.
Ongelukkig is daar nie meer plek vir nog kos stalletjies nie, daar is
reeds tonne!

Wat vermaak betref buiten dit wat op die program verskyn, is daar weer
soos in die verlede 'n skyfskiet punt. Daar sal ook 'n perdekar wees
waarop die kinders kan ry en verskeie ander vermaak vir die kinders.
Daar is natuurlik altyd plek vir nog, veral met die hoeveelheid mense
wat ons verwag. Indien enige iemand dalk belangstel, kontak my!

Vriendelike groete,

Ben Geldenhuys
Besoek gerus
http://volkskultuurdag.blogspot.com