Monday, April 27, 2009

BELANGRIKE VVK NUUS

Beste Volksgenote,

Na afloop van die Majuba-naweek in Februarie, is die VVK weer 'n hele
ent verder in die pad af met die taak om 'n verkiesing onder ons eie
volk te fasiliteer. Groot dank aan almal wat hulle bydrae daartoe
gelewer het!


Op 25 Februarie is Paul Kruger (VVK Voorsitter) genooi deur 'n
sub-komitee van Transvaalse Landou-Unie SA, bestaande uit 'n aantal
van hulle oud-Presidente, om die VVK se rol en strategie aan hulle
uiteen te sit met die oog op moontlike samewerking van TLU SA se kant
af. Die sub-komitee sou terugvoer gee aan TLU SA se bestuurstrukture
ten opsigte van die gesprek, wat uiters positief verloop het. By
skrywe hiervan (26 April 2009) sien ons nog uit na 'n amptelike
besluit deur TLU SA, om ook op staatkundige terrein die wa saam met
die VVK te help trek in ons volk se epiese stryd om oorlewing. Die
sorgwekkende is dat dit die volk 15 jaar geneem het net om met Stap 1
te begin: Die verkiesing van leiers wat met die spesifieke mandaat
beklee is om ons eis vir selfbeskikking in ons eie gebied regmatig te
kan stel. ALLE hande word nou benodig!


Op 12 Maart 2009 het Paul Kruger 'n radio-onderhoud met Prof. Hendrik
van der Wateren (Voorsitter van die Afrikaner Front, 'n
sambreel-liggaam met 25 lid-organisasies waaronder Radio Pretoria, TLU
SA, die HNP, GHA en andere) gevoer. Die Afrikaner Front se
doelstelling word in sy grondwet uiteengesit as selfbeskiking vir ons
volk, en Prof. Van der Wateren het dan ook tydens die onderhoud
bevestig dat die Afrikaner Front-bestuur 'n amptelike besluit geneem
het om die VVK se verkiesingsinisiatief te steun. Ons het met
dankbaarheid daarvan kennis geneem, en doen hiermee 'n beroep op alle
volksorganisasies wat nog nie lid van die Afrikaner Front is nie, om
so gou moontlik julle gewig daar in te gooi. Organisasies wat reeds
lede van die Afrikaner Front is word genooi om dringend met die VVK te
skakel vir beplanning rondom julle bydrae tot realisering van ons
volksverkiesing.


Intussen het ook 'n klomp hande op die dek bygekom as Registrasie
Beamptes en Verkiesing Streek Koördineerders. In laasgenoemde verband
is ons dankbaar teenoor Ds. Du Plessis (vir die streek Wes-Transvaal),
Dr. Pieter Möller (Algemene Verkiesing Streek-Koördineerder), Dr.
Corné van der Walt (Chicago, VSA), G.P de Kock (Orania / Noord Kaap),
Roché van Heerden (Graaff-Reinet / Oos-Kaap), Kobie van der Hoven
(Algemene Verkiesing Streek-Koördineerder en verleen ook hulp aan
Sakkie van der Schyff in die streek Noord-Vrystaat) en Marieke Smuts
(België).

As iemand vanuit die buiteland in Suid-Afrika op besoek is, hoor ons
graag daarvan sodat ons die nodige papierwerk in plek kan kry vir
aanstelling as Registrasie Beamptes en Streek Koördineerders oorsee
wat ons vele volksgenote in verstrooiing kan bedien om geregistreer te
kom. Dit spaar die VVK die onkoste van oorsese reise!


Op 2 April 2009 het die VVK Sentrale Komitee 'n voorlegging namens die
VVK gedoen by die Afrikaner / Zuma beraad en die strekking daarvan
word in die volgende media-verklaring weergegee:


MEDIA-VERKLARING DEUR DIE VVK
na aanleiding van die byeenkoms:

"Afrikaner-leiers in Dialoog met ANC President, Jacob G. Zuma
gehou op Donderdag, 2 April 2009 te Sandton, Johannesburg

Die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) was deur die fasiliteerder
van die byeenkoms: "Afrikaner-leiers in Dialoog met ANC President
Jacob Zuma" na die genoemde byeenkoms uitgenooi. Mnr. Paul Kruger,
Voorsitter van die Sentrale Komitee van die VVK, het die byeenkoms op
2 April 2009 bygewoon en 'n voorlegging daartydens gelewer.

Die Afrikaner-organisasies op die byeenkoms het oor 'n wye spektrum
gewissel van Kerke, kultuur-organisasies, Landbou-organisasies,
vroue-organisasies en die Broederbond tot die Orania-Inisiatief.
Tydens hulle voorleggings, het geen van hierdie organisasies ons volk
se strewe om onsself in ons eie staat te regeer, voorgedra nie.

Mnr. Paul Kruger het die aanwesiges in die volgende terme toegespreek:

1. Dat die Afrikaner- "leiers" op die byeenkoms GEENSINS die politieke
leiers van die Afrikaner is, soos wat Mnr. Zuma die leier van sy mense
is nie; omdat hulle nie demokraties daartoe verkies is nie, soos wat
Mnr. Zuma tot leier van sy belangegroep verkies is.

2. Dat hierdie sogenaamde Afrikaner "leiers" gevolglik GEEN mandaat
het om enige politieke uitsprake namens die Afrikaner te maak nie; en
ten beste beskou kan word as leiers van sekere inisiatiewe wat onder
'n deel van die Afrikanervolk aan die gang is.

3. Dat die Afrikanervolk sedert 1994 inderwaarheid leierloos en
polities onthoof is.

4. Dat die Volksraad Verkiesing Kommissie juis besig is om hierdie
politieke onthoofding op te los, synde in proses om 'n Volksraad te
laat verkies. Die volksverkiesing wat die VVK in proses is om te
fasiliteer, sal 'n vry; regverdige en demokratiese VOLKSverkiesing
wees.

5. In daardie verkiesing word gewone mense tans in die
Boere-Afrikanervolk die geleentheid gebied om as kiesers op ons eie
kiesersrol te registreer; uit vrye keuse Volksraadslede te nomineer;
en nadat die kieserregistrasietydperk afgeloop is, sal hulle uit vrye
keuse vir diegene kan stem wat hulle met hulle politieke toekoms
vertrou.

6. Eers daarna sal die Afrikaner weer oor politieke "leiers" beskik
wat die leiding betreffende ons uiteindelike politieke toekoms kan
neem en in sodanige verband namens ons volk sal kan praat.

7. Dit is prakties onmoontlik vir een Regering om in die uiteenlopende
behoeftes van verskillende volke te voorsien in een Staat met skaars
hulpbronne, deur wetgewing wat almal akkomodeer. Dit is ook die geval
in Suid-Afrika.

8. Dat 'n wesenlike deel van ons volk nie die huidige Brits-koloniale
grense van Suid-Afrika aanvaar nie, en selfbeskikking in ons eie
gebied opeis.

9. Dat ons Volksraad, sodra dit tot stand gekom het, hierdie eis sal
hanteer ooreenkomstig die vereistes van die Volkereg.

- Paul Kruger
6 April 2009


Intussen werk ons hard aan die draaiboek van die televisie-produksie
wat ons gratis by wyse van DVD gaan versprei. Weereens: As iemand
interressante video-materiaal het uit welke tydperk ookal, laat weet
asseblief!

Julle het sekerlik opgemerk dat ons webwerf ook intussen in 'n ander
klas inbeweeg het, en hiervoor ons opregte dank aan die jonge heer
Quintin Diederichs. Ek voorspel dat hy nog diep spore in die
vryheidstryd gaan trap! Danksy Quintin se uitsonderlike vaardighede op
die internet-terrein is hy gevra om as Openbare Betrekkinge Beampte
vir die VVK op te tree, en enigiemand wat ons wil kontak insake e-pos
kommunikasie, webwerwe of Internet-navrae kan sommer direk met hom
skakel by 076 943 2214 of vvk@drommedaris-golf.com

Ja, en so het die nasionale verkiesing van 2009 intussen verbygegaan
sonder - wil ek my verstout om te sê - dat dit ons nader gebring het
aan ons strewe om onsself weer in ons eie vaderland te regeer. Van die
VVK se kant af is ons dankbaar dat talle vryheidsgesindes wat wel in
die nasionale verkiesing gestem het, nou reeds ook hulle gewig ingooi
by die volk se eie verkiesing wat die VVK fasiliteer – 'n verkiesing
wat gaan uitloop op 'n mandaat aan verkose leiers wat die eis vir
selfbeskikking sal deurvoer.

Laat ons almal in snelrat inbeweeg met die harde werk op hande; kontak
die Sentrale Komitee met enige vorm van hulp wat jy kan aanbied, en
onthou dat ons niks beter of slegter is nie as ons voorouers wat net
sulke geweldige uitdagings te bowe moes kom – en te bowe gekom het –
ter wille van vryheid. ONS KAN DIT OOK DOEN, ONS GAAN DIT OOK DOEN!

Groetnis tot volgende keer.

"Sukses is nie 'n ongeluk nie – dit is die resultaat van 'n intelligente poging"

No comments: