Wednesday, April 28, 2010

Voortrekkermonument verklaarde instelling ?

28 April 2010


Die Voortrekkermonument is tans besig met wat hulle beskryf as 'n
omvattende oudit. Een van die aspekte, is 'n emmosionele oudit wat met
behulp van 'n vraelys gedoen word wat genoem word 'n quo vadis
vraelys.

Op die webwerf van die Voortrekkermonument is die vraelys beskikbaar
en daar is ook op hierdie webwerf 'n verduideliking van die doel van
hierdie vraelys. In die agtergrondinligting word verduidelik en ek
haal aan: "Gegewe die finansiële omstandighede moet daar onder andere
bepaal word wat die wenslikheid al dan nie daarvan is om hierdie
instellings as nasionaal verklaarde instellings te laat registreer."

Ter verduideliking van wat 'n verklaarde instelling is, word die
volgende aangebied: In die eenvoudigste moontlike terme is 'n
verklaarde kulturele instelling (hierna net na verwys as "verklaarde
instelling"), 'n instansie wat aan die staat behoort. Dit word 100%
deur die staat befonds en hoewel ander fondsinsamelings-projekte gehou
kan word, word die totale begroting besonder streng beheer en is die
'Public Finances Management Act - (PFMA)" 100% van toepassing. Met die
ander funksies van so 'n instelling word nie ingemeng nie, maar
aspekte soos swart ekonomiese bemagtiging ("BEE"), voorsieningsbestuur
("supply chain management"), aankope is 100% van toepassing.

Vir menigte volksgenote is dit totaal onaanvaarbaar dat daar enigsins
gedink kan word om die Voortrekkermonument in 'n verklaarde instelling
te verander, veral omdat die bestuur deeglik bewus is van die gevolge
van so skuif. Gevolglik het talle besorgde volksgenote ander
volksgenote aangemoedig om die vraelys in te vul. ds. Coen Janse van
Rensburg van Natal het ook die APK lidmate versoek om hierdie vraelys
in te vul en het die volgende motivering daarvoor gegee: "Ek sluit
hierby in 'n vraelys wat gaan bepaal wat met die Voortrekkermonument
in Pretoria gaan gebeur. Die betrokkenes tans by die monument wil dit
aan 'n swart bemagtigings organisasie "verkoop". Die volgende een is
glo Bloedrivier."

Hierdie boodskap is ook op die voorblad van die APK se webwerf geplaas.

Let asb dat die woord "verkoop" in aanhalingstekens is. Enige iemand
met 'n basiese begrip van skryf en leestekens, sal weet wat bedoel
word wanneer 'n woord in aanhalingstekens geskryf word, binne die sin
wat ds. Coen dit geskryf het. Enige iemand behalwe Gert Opperman.....

My e-pos is vandag bevuil met 'n e-pos wat oorspronklik van Gert
Opperman afgekom het waarin hy nie net in die karakter van ds. Coen
klim nie, maar waar hy ook ds. Coen as leuenaar verklaar.

Sy e-pos lui as volg na hy die boodskap op die APK webwerf aangehaal het:

"As dit bloot was dat ds van Rensburg van die AP Kerk Newcastle nie
ingelig was nie, kon 'n mens dalk nog probeer het om hom sy onkunde te
vergewe. Hy, as predikant, behoort egter te weet dat baie mense hom
as geloofwaardig sal beskou en sal glo dat sy uitsprake sekerlik
vooraf bevestig is en die toets van waarheid en billikheid behoort te
kan deurstaan. Dieselfde geld natuurlik vir u tuisblad as amptelike
mondstuk van die AP Kerk. Helaas!

Graag word bevestig dat die bewering oor die voorneme om die monument
"aan 'n swart bemagtigingsorganisasie te verkoop", 'n volslae leuen
is, asook die suggestie dat Bloedrivier volgende sou wees. 'n Mens kan
nie anders as om ds van Rensburg se eerlikheid, objektiwiteit en
kwaadgesinde klimaatskepping ernstig te bevraagteken nie. As dit is
hoe hy navorsing doen en "feite" voor verkondiging daarvan bevestig,
sal ek persoonlik dit moeilik vind om ooit ernstig te luister na enige
boodskap wat hy uit die Bybel verkondig, maar gelukkig is ek nie 'n
lid van sy gemeente nie.

Graag word drie afskrifte van sake wat onlangs wyd in die media
gerapporteer is, vir u insae hierby aangeheg. Dit word vertrou dat u
dieselfde prominensie daaraan sal gee op u tuisblad as wat u aan ds
van Rensburg se onwaarhede en onwaardighede gegee het. As minimum
behoort u onverwyld die feite reg te stel en om verskoning te vra, in
belang van u eie beeld en geloofweardigheid as die AP Kerk se
Direkteur van Kerkadministrasie.

Die uwe

Gert Opperman"


Na aanleiding van Gert Opperman se onvermoeë om te lees en te verstaan
wat op die webwerf van die Voortrekkermonument geskryf staan en ook
weens sy onvermoeë om te verstaan wat beteken 'n woord wat in
aanhaalingstekens geskryf staan, sal die Verkenners Beweging van
Suid-Afrika die CVO skool in Pretoria versoek en betaal sodat Gert
Opperman 'n paar Afrikaanse lesse saam met die graad 3 klas kan
bywoon. Dit is immers belangrik dat 'n man wat die posisie van hoof
uitvoerende beampte beklee by die Voortrekkermonument, nie homself en
by implikasie die Voortrekkermonument, belaglik maak, bloot omdat hy
nie basiese leesvaardighede het nie. Ons hoop en vertrou dat Gert
Opperman na hy hierdie vaardighede aangeleer het, sal verstaan wat
geskryf staan op die Voortrekkermonument se webwerf en ook verstaan
wat ds. Coen geskryf het. Verder dring ons daarop aan dat Gert
Opperman die eerbare ding sal doen en ds. Coen verskoning vra vir die
kwaadwillige ongegronde beledigings.

Die uwe,

Ben Geldenhuys
President
Verkenners Beweging van Suid-Afrika

Ns. Ek hoop nie hier is te veel groot woorde in hierdie skrywe nie en
dat Gert Opperman die inhoud hiervan sal verstaan. Dit het my opgeval
dat Mnr. Opperman "VTM" skryf wanneer hy na die Voortrekkermonument
verwys, ek neem aan "Voortrekkermonument" is een van daardie groot
woorde waarmee hy sukkel .