Friday, October 2, 2009

Nuus oor die VVK

Terwyl die duisend-talle oplaai van Vorm 1's wat hier by die Sentrale
Komitee opdaag en ons ewe gelukkig rondgejaag word deur telefoon- en
e-pos boodskappe, word dit daagliks duideliker: Hierdie volk mag dalk
tot onlangs nog in die nasleep van 1994 "verslae" gewees het, maar hy
is verre van "verslaan". Hy is besig om al sterker vir sy reg as
onafhanklike volk in die state-ry op te staan – en soos altyd wanneer
hy eers oortuig is van sy reg tot 'n sekere bestemming en die roete
daarheen, kan niks en niemand die Bittereinders (wat ook in ons geslag
na vore kom) van stryk bring nie.

Soos wat die maande aanstap word dit al duideliker dat ons 'n
volksgesag gaan verkies as regmatige stap van 'n regmatige proses in
ons stryd van vandag wat steeds die eeue-oue stryd van ons voorouers
is: Die stryd, nie om te oorheers en te verdruk nie, nie om in te palm
nie, maar bloot die stryd om voort te bestaan onder aardse wette wat
ooreenkom met ons begrip van die Vader se Wetgewing - die stryd om
toegelaat te word bloot om te mag bly wat ons is!

Die aantal Registrasie Beamptes kom tans te staan op tussen drie- en
vierhonderd; verder verwelkom ons 'n hele aantal nuwe Streek
Koördineerders: Martie Coetzer (Verkiesing Streek-Koordineerder - VSK
- vir die streek Oos-Vrystaat); Johan Fourie (VSK vir die streek
Natal); Pieter Marx (VSK vir die streek Trans Oranje); Gert Mÿburg
(VSK vir die streek Noord-Kaap); Hennie de Villiers (VSK vir die
streek Wes-Kaap) en Henriëtte van Niekerk (VSK vir Australië).

As Algemene Verkiesing Streek-Koördineerders (AVSK's) wat bestaande
VSK's help om Registrasie Beamptes aan te stel, het bygekom: P.S.
Kruger (Noord-Transvaal), Ds. Ferdi Devenier (Wes-Transvaal), B.C.
Buitendach (Wes-Transvaal), David Grobbelaar (Verre Noord-Transvaal),
Tiaan Theron (Karoo), D.G. Van der Merwe (Wes-Transvaal), B.J.M.
Rossouw (Oos-Vrystaat), O.W. Smith (Natal), Ds. Sarel Roets
(Noord-Transvaal) en Lelani Pelser (landwyd).

HARTLIK DANK aan al die nuwe hande!

Julle sal dalk hierbo opmerk dat daar skielik sprake is van 'n Streek
"Trans Oranje" (suid-, wes- en sentraal Vrystaat) wat nie meer "Trans
Gariep" genoem word, soos voorheen nie. Wel, dié situasie het sy
ontstaan te danke aan 'n kostelike insident op 'n huisvergadering by
Pieter Marx - waarvan hy julle meer sal kan vertel – en wat net gewys
het dat die VVK 'n naam sommer veel vinniger verander as die ANC!

Gedurende Julie-maand is Danie du Toit (VSK: Karoo-Streek) en ek deur
die Noord Kaap en Karoo met 'n vlugtige draai in die Wes-Kaap – en
behalwe vir die talle kieser-registrasies en Registrasie
Beampte-aanstellings, het dit 'n ervaring geword wat my altyd sal
bybly as een van die hoogtepunte van my volksbelewenis. 'n Tyd waarin
ek moed kon put deur weereens te ervaar dat die troue kern van hierdie
volk steeds gevind kan word oor die lengte en breedte van hierdie wye
land en dat daardie kern-oorblyfsel ook kerngesond is!

Intussen het Lelani Pelser by ons aangesluit as voltydse
Administratiewe Beampte en ons wens haar 'n dienstermyn toe wat 'n
waardevolle ervaring sal wees.

Lelani het pragtige VVK-hemde bestel wat einde September teen ongeveer
R200.00 elk gereed behoort te wees – skakel haar gerus om seker te
maak jy word een van die trotse eienaars.

Van hemde gepraat: Nuus uit Brittanje is dat die Jack Hindon
Verkenners (uitgedos in spoggerige VVK t-hemde) 'n Danie
Theron-gedenkkamp van 11-13 September net buite London gehou het ter
bekendstelling van die kieser-registrasie proses in daardie omgewing.
Dankie vir die inisiatief aan Willie en sy span! Dankie ook aan Die
Afrikaner vir 'n netjiese VVK-bylaag in die 4-10 September-uitgawe.
Dit is iets besonders, wat vir latere geslagte bewaar moet word.

Soos hierdie keer met Willie-hulle en Die Afrikaner die geval is, hoop
ons dat die volgende Onlangse Gebeure gaan berig oor wat JY gedoen het
om die volksverkiesing te verhaas. Onthou: JY is die volk! Ons sluit
af met 'n aanhaling van die Duits-Pruisiese filosoof Fichte wat dit
treffend geillustreer het in 'n tyd toe sy volk en staat in 'n
toestand van radeloosheid en verval was:

"…Und handeln sollst du so als hinge von dir und deinem Tun allein das
Schicksal ab der deutschen Dinge und die Verantwortung wär dein".

(overgesetsynde: …handel asof jou volk se noodlot van jou en jou dade
alleen afhang; asof die verantwoordelikheid joune alleen is…)

Groetnis van huis tot huis tot volgende keer,

Paul Kruger

No comments: