Tuesday, August 18, 2009

Media verklaring - Oranjekas 18 Augustus 2009

Na aanleiding van die aankondiging van die reserwebank op 13 Augustus
2009 dat rentekoerse met 'n halwe persentasie punt gesny sal word, het
die Direksie van Oranjekas besluit om ook die uitleenkoers van
Oranjekas met 'n halwe persentasiepunt te sny. Oranjekas het egter
aangekondig dat rente wat beleggers en rekeninghouers ontvang nie
aangepas sal word nie.

Oranjekas Spaar en Krediet is 'n volkseie finansiële ko-operatief, wat
die beste belang van die volk eerste stel. Mnr. Jan Beyers, Besturende
Direkteur van Oranjekas het gesê "Oranjekas het 'n verantwoordelikheid
teenoor sy aandeelhouers om winsgewend te wees, maar het ook 'n
verantwoordelikheid teenoor die volk om in die resessie waarin die ANC
regering die land gedompel het, die volk tot hulp te wees." Hy het
bygevoeg "dit is vanjaar die 70ste herdenking van die
Reddingsdaadbond, eerder as om te praat of nostalgiese kongresse
daaroor te hou, wil Oranjekas 'n bydrae lewer tot die ekonomiese
welstand van die volk in die gees van die Reddingsdaadbond".

Beyers het bygevoeg dat daar nuut gedink sal moet word, om die
finansiële aanslae teen die volk die hoof te bied. Die ANC regering
gaan hierdie volk geen gunste doen nie en gevolglik sal daar 'n eie
ekonomie ge herskep moet word. In tye waarin die volk swaarkry, is dit
onmoontlik om van die volk te verwag om slegs op nostalgiese redes 'n
saak te ondersteun, daar moet ook gekyk word na die ekonomiese
voordele en realiteite. Oranjekas bied aan die individuele volksgenoot
verskeie voordele en die individu se deelname skep weer die
geleentheid om ander volksgenote tot voordeel te wees. Op hierdie
manier, red die volk homself.

No comments: