Friday, May 15, 2009

* Nuus: Volksraad Verkiesing Kommissie *

Beste Vriende,

Sedert einde 2008, maar veral die afgelope maande, is 'n uiters
belangrike herskikking besig om in ons volkslewe plaas te vind.

Dit speel af op politieke front, maar raak veral ook duidelik uit die
nuwe posisionering van sekere konglomerate wat vry algemeen tot dusver
as "volksorganisasies" deurgegaan het; en plotseling met vreemde maats
in die bed skyn te wees.

Soos gewoonlik, is hierdie verwikkelinge nie noodwendig goeie nuus in
ons worstelstryd om vryheid nie. Duidelik sal hierdie stryd uit 'n
suiwer logika-oogpunt al hopeloser word indien ons gewone volksgenote
op die grond nie dringend bemagtig word tot seggenskap in ons toekoms
nie - en dit geld nie net in die konteks van ons teenoor ander volkere
nie, maar veral ook op interne vlak binne die volk.

En juis dáárvoor werk die VVK - met alles wat ons is en alles wat ons
het... enduit.

Soos altyd wanneer ons volk aan homself oorgelaat is om hom aan sy
skoenrieme op te trek, gaan die VVK-inisiatief egter nie gepaard met
miljoene in die bank en 'n groot, betaalde personeelkorps nie. Ons
werk word gedoen danksy bittereinder-mense en organisasies wat
oorgebly het om die stryd in ons dag, in goeie trou te stry.dieselfde
beproefdes en vertroudes wat soveel al gedoen en opgeoffer het.

Maar hoekom sou hulle wéér probeer; weer opoffer?

Wat die VVK-inisiatief hierdie keer vir diesulkes inhou, is dat dit
gebou en gestruktureer is op sodanige wyse dat dit om die volk en die
volk alleen draai; dat ons die leisels van interne besluitneming oor
ons noodlot vir eenmaal (sedert 1902!) in volkshande plaas; en dat die
volksaak hierdie keer nie in die rug gesteek KAN word nie.

Duisende volksgenote besef dit; en het reeds dienooreenkomstig
gereageer. En soos wat die deure elders een vir een in hierdie volk se
gesigte toegeklap word, sal ons werk net vinniger en vinniger momentum
gegee word soos wat dit deur meer en meer gewone mense op straat besef
word. Harde werk is al gedoen, en daar lê nog harder, maar opwindende
werk voor! Hoe meer hande wat die wa help trek, hoe vinniger span ons
weer uit in die "Bedoelde Land".

Sedert ons laas gesels het in hierdie rubriek, moes ons in die
Sentrale Komitee (SK) afskeid neem van "Tannie Bets". Bets Botha het
weens nuwe persoonlike uitdagings versoek om, vir die oomblik altans,
verskoon te word van die SK. Ons groot dank word hiermee uitgespreek,
nie net vir haar belangrike insette in VVK-verband nie; maar vir alles
wat sy al vir haar volk beteken en geoffer het en steeds bly doen.
Haar moed en inspirasie het ons tot voorbeeld geword!

Gelukkig word die SK aangevul met "nuwe bloed" in die vorm van ons
vaardige Openbare Betrekkinge Beampte, Quintin Diederichs. Quintin
werk met die ywer en begeestering kenmerkend van die jonger
lewensjare, en het reeds 'n GROOT verskil gemaak - en dit is waaroor
dit gaan. Hartlik dank vir jou harde werk en die opgewekte luim waarin
jy dit doen, Quintin!

Ons is ook dankbaar vir die insette van Theo Kruger, wat intussen as
Algemene Verkiesing Streek-koördineerder in die Groblersdal-omgewing
doenig geraak het.

Verder het Willem ("Willie") Steenkamp ook begin help as Verkiesing
Streek-koördineerder (VSK) van Streek 17: Brittanje, Noord-Ierland en
die Ierse Republiek. Willie kan ook Registrasie Beamptes (RB's) daar
aanstel; en gegewe die hoeveelheid van ons mense daar, weet ons daar
lê harde werk vir hom voor. Hiermee weereens DANKIE aan jou, Willie!

Dankie aan Franz Conradie wat uit Orania laat weet het dat hy bereid
is om te help met die dokumentêre dvd-produksie. Onthou, daar is 'n
staande uitnodiging aan almal van julle om film-materiaal beskikbaar
te stel wat ons volkslewe in al sy fasette, beide in verlede en in
hede, uitbeeld vir moontlike gebruik in ons dvd.

Die beplande toer van ons VSK , Henk van de Graaf, en andere na
Australië later vandeesmaand is ongelukkig uitgestel na Oktober. Dit
beteken dat ons volksgenote aldaar se vele versoeke om as kiesers
geregistreer te kom, nog nie op hierdie stadium aangespreek kan word
nie. Kan iemand wat daar woonagtig is en in Suid-Afrika op besoek is
of eersdaags hierheen kom, ons ASSEBLIEF kontak sodat ons 'n VSK en
RB's daar in plek kan kry? (Dieselfde geld vir Kanada en Nieu Seeland)

Maak gerus 'n draai by die Geloftefeesterrein van Potgietersrus om
10h00 op 23 Mei of op 30 Mei by die Paardekraal-feesverrigtinge, as
enigeen persoonlik met ons wil skakel.

Groetnis van huis tot huis tot volgende keer, en onthou gerus die
volgende aanhaling:

"Dit het my yskoud gemaak van vrees" (Winston Churchill tydens sy
gevangeskap in die Tweede Vryheidsoorlog, toe hy hoor hoe die Boere
saans Psalms sing).

- VVK Sentrale Komitee

Volksraad Verkiesing Kommissie

Vryheid - Eenheid - Geregtigheid

No comments: