Friday, May 15, 2009

Antwoorde op aantuigings teen ons

Dit het aan die lig gekom dat mnr. Gert Opperman die volgende skrywe per
e-pos versprei het om ons, die PVJ, in 'n slegte lig te stel. Ons stuur dit
aan u om enige onduidelikhede wat daar tans mag bestaan, sowal as
wanopvattings wat later sou kon ontstaan, uit die weg te ruim.

Hier volg eers die brief van mnr. Opperman en daarna volg ons antwoorde.

----------------------------------------------------

Geagte Vriende

Geliewe kennis te neem dat 'n groep van 17 lede van die Verkenners Jeug
(Konserwatiewe kultuurorganisasie wat destyds as teenvoeter vir die
Rapportryerbeweging gestig is en nie verwar moet word met die Voortrekkers
se Verkenners nie), op Saterdag, 10 Mei) die VTM Geskenkwinkel beset het uit
protes teen "volksvreemde items" (lees onder andere die "nuwe" landsvlag),
wat daarin verkoop word.

Ons was voorbereid daarop, alhoewel die President van die Verkenners vooraf
pertinent ontken het dat daar só-iets beplan word. Die besetters het
aanvanklik gedreig dat hulle deurnag daarin sou bly totdat die "ongewensde
items" verwyder is, maar is kort na 18h00 deur die SAPD oortuig om die
terrein sonder verdere insident te verlaat. Die alternatief was dat hulle
gearresteer sou word en die nag in Pretoria Sentraal sou moes deurbring het,
iets wat ons ook nie graag wou gehad het nie.

Hulle het wel 'n protesskrif aan my geadresseer agtergelaat, maar dit het
nie veel nuuts bevat nie.

Mev Crous, die winkeleienaar, was deurentyd teenwoordig en het na afloop
daarvan haar tevredenheid uitgespreek met hoe die saak vanaf ons kant en
deur die SAPD hanteer is.

Ongelukkig steun hierdie groep op onwaarhede om hulle weergawe van die
situasie meer geloofwaardig te laat klink. Graag word kategories bevestig
dat dit nie waar is nie:

a. Dat ek nie op hulle vertoë gereageer het nie. Hulle het
wel nie hulle sin gekry nie, wat nader aan die waarheid sou gewees het.
(Daar is bv vooraf 'n lang brief – soos aangeheg - en opvolg elektroniese
boodskap aan hulle gestuur in reaksie op hul aanvanklike klagtes).

b. Dat ek nie gereageer het op hulle versoeke vir 'n
vergadering nie. Benewens bovermelde skrywe en die opvolg elektroniese
boodskap, het ons het nog verlede week 'n afspraak met mnr Henk van der
Graaf, omroeper van Radio Pretoria en terselfdertyd President van die
Verkenners , gehad. Hy het ontken dat hy enigiets van só 'n beplande aksie
weet en sou my Donderdag kom sien het, net om Donderdag-oggend op navraag te
laat weet dat hy "nie meer kon kom nie omdat hy na Nampo te Bothaville moes
gaan". Hy was egter vanoggend reeds weer aktief as omroeper op Radio
Pretoria, om 'n onderhoud met sy betrokke organisasielede oor die
besettingsaksie te kon voer (wat 'n groot vraag plaas oor sy objektiwiteit
as omroeper).

c. Dat daar kopdoeke in die geskenkwinkel is met Winnie
Mandela se foto op, louter snert!

Die VTM se uitgangspunt bly soos volg:

a. Die VTM is 'n private maatskappy onder beheer van 'n eie
direksie, wat na die beste van sy gewete en vermoë onder andere teen 'n wins
moet handel dryf om vir sy eie oorlewing te help sorg.

b. Sekere van ons fasiliteite op die terrein is
uitgekontrakteer aan privaat ondernemers, wat die reg het om hul besigheid
met die oog op eie wins of verlies te bedryf. Alhoewel ons van hulle verwag
om dit binne die etos van die VTM te doen, is dit hulle goeie reg om op die
grondslag van billike vraag en aanbod produkte te verskaf om aan die
behoeftes van hul publieke te voldoen.

c. As ons nie aan die aanvraag voldoen nie, sal die besoekers
net elders die produkte wat hulle verlang, aankoop, Alhoewel ons hoegenaamd
nie 'n tweede Dieretuin-verkoopplein is of wil wees nie, moet ons aanvaar
dat veral buitelandse besoekers soms iets anders as bloot ossewaens en
dolosse wil koop.

d. Myns insiens het die argument oor die "nuwe" landsvlag sy
relevansie verloor. Die ou Republiekvlag is vir alle praktiese doeleindes
reeds amper vergete en ons het sedert 1994 'n ander landsvlag, ongeag hoe
lief ons vir die ou vlag was en of individue of groepe van die "nuwe" een
hou of nie. Van ons jonger kinders is onder die "nuwe" vlag gebore en ken
geen ander een nie. Om nou skielik by die ou Republiekvlag (wat ook vir
"Regses" skielik nie meer aanvaarbaar is nie), verby te wil terugbeur na die
Vierkleur en die Vrystaatse vlag, is om die verlede ten koste van die hede
en die toekoms te wil herkonstrueer.

e. Die betrokkenes begin hulself nou net eenvoudig té veel
aanmatig. As hulle nie die landsvlag afneem by 'n jong Voortrekkertjie
tydens 'n konsert in die VTM nie, of aktiwiteite te Bloedrivier probeer
ontwrig omdat hulle nie daarmee saamstem nie, begin hulle nou ook al poog om
aan ons voor te skryf oor hoe ons die VTM en die geskenkwinkel moet bedryf.
Dit sal nie geduld word nie.

f. Daar sal nie toegelaat word dat ons huurders of enige van
ons besoekers of die gebruikers van ons fasiliteite, of die lede van die VTM
se bestuur, deur dreigemente geïntimideer word nie. As dit nodig is, sal
daar, sonder aansiens des persoons, baie streng opgetree word. Dieselfde
benadering geld tov aktiwiteite wat plaasvind in die Monument of by enige
ander terrein wat onder die VTM en die Erfenisstigting se beheer val.

Vriendelike groete

Gert Opperman

Hoof Uitvoerende Beampte

Die Voortrekkermonument en Die Erfenisstigting

Tel: (012) 326 6770

Fax/faks: 086 635 4683

Sel/cell:083 300 4580


------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------


Die Pretoria Verkenner Jeug (PVJ)wil graag hiermee antwoord op 'n brief van
mnr.Opperman wat deur homself aan verskeie mense gestuur is. Alhoewel dit
ons nie verbaas nie, vind ons dit uiters teleurstellend dat hierdie aanval
op die PVJ nie aan onsself gerig is nie.

Ons antwoord nou puntsgewys op die stellings in sy brief.

A Op die aanklag dat ons gesê het dat mnr. Opperman nie op ons vertoë
gereageer het nie wil ons noem dat ons nooit gesê het dat hy nie gereageer
het nie. Wat ons wel gesê het, is dat hy nooit bevredigend gereageer het of
aan ons versoek voldoen het nie. Daarom het ons ook met aksie voortgegaan.
Wat ons wel gesê het is dat die winkeleienares nooit op ons e-posse
gereageer het nie. Dit het sy self ook erken en gesê dat sy dit nie nodig
geag het nie.

B Op hierdie punt wil ons net weet hoekom die VTM bestuur nooit met die
PVJ bestuur kontak gemaak het oor die moontlikheid van samesprekings nie,
aangesien dit ons is wat die aksie geloods het. Waarom dan met mnr. Henk
van de Graaf praat wat die nasionale president is van die
Verkennersbeweging?

C Op punt C wil ons reageer deur te sê dat dit mnr. Opperman is wat
onwaarhede versprei. Die PVJ het nooit iets van dié aard gesê nie. Sy
wanindruk kom moontlik van die Praag artikel wat verwys het na die NSA vlag
as Winnie se kopdoek. Mnr. Opperman moet nie woorde in die PVJ se mond lê
nie.

Verder antwoord ons op die VTM se uitgangspunt soos in hierdie brief
uiteengesit.

A Die VTM is hiervolgens 'n private maatskappy wat impliseer dat daar
aandeelhouers is wat winste trek. Intussen het mnr. Opperman in sy brief
aan die Verkenners pertinent gesê dat die VTM 'n Artikel 21, dus 'n
nie-winsgewende organisasie is.

B As die winkel uitgekontrakteer is, hoe klop dit met punt A hierbo wat sê
dat hulle afhanklik is van die winste?

Verder noem hulle die etos van die VTM. As goedere soos kondome binne
hierdie etos raamwerk aanvaarbaar is, wat sê dit dan van die VTM etos?

C 'n Toeris wat die moeite doen om die VTM te besoek sal juis iets wil
koop om te wys dat hy juis daar was i.p.v. iets wat hy op enige ander plek
in SA kom koop. Of is daar toeriste wat SA besoek net om by die VTM te kom
kuier?

D Die Republieksvlag is lank nie vergete nie. Die kinders wat onder die
nuwe vlag gebore is en nie enige ander vlag ken nie is dié wat nie deur hul
ouers oor hul geskiedenis ingelig is nie. Enige trotse Afrikaner lig hul
kinders behoorlik hiervan in. Niemand "herkonstrueer" die verlede nie, maar
as jy nie weet waar jy vandaan kom nie, sal jy nie weet wie jy is nie en sal
jy nooit kan droom oor wat jy nog kan wees nie.

E Die Verkenners is nie verantwoordelik vir enige van hierdie twee gevalle
nie, maar ons is dankbaar dat mnr. Opperman noem hoeveel mense en/of
organisasies alreeds sigbaar teen hulle te velde getrek het oor hul
volksvreemde bedrywighede.

F Die Verkenners het nooit enige huurder, besoeker, gebruiker van VTM
fasiliteite of bestuurslede van die VTM gedreig nie. Inteendeel het ons die
geskil baie vreedsaam hanteer.

Mnr. Opperman beweer dat ons op onwaarhede steun om aan onsself
geloofwaardigheid te verleen. Dit blyk egter of dit eerder die VTM is wat
oningelig is. Die PVJ is 'n Christelike organisasie en ons sal nie van
leuens gebruik maak nie. Die VTM, soos dit blyk uit die inhoud van hul
winkel, het alle Christelike waardes laat vaar en daarom verbaas dit ons nie
dat hul wel van so 'n strategie gebruik maak nie.

Pretoria Verkenners Jeug bestuur
verkennersjeug@gmail.com


--
Werner Smook
Voorsitter: Verkenners Jeug Pretoria

No comments: