Friday, November 27, 2009

Volkshulp - Kersaksie Desember 2009

Feestyd ?

Die jaar snel weer vinnig na 'n einde en almal sien uit na Desember.
'n Maand van rus, ontspan en kuier saam met familie en vriende. Daar
word druk beplan aan die vakansie wat voorlê. Diegene wat na die see
of vakansie oorde toe gaan, tref opgewonde die laaste reëlings.
Kersdag en nuwejaarsdag word haarfyn beplan: wie kom kuier, wat gaan
ons eet, watter geskenke gaan ons vir wie gee. Die moeilike jaar wat
verby is, is vir eers vergete.

Maar ongelukkig is Desember en veral Kersfees of selfs die nuwe jaar
nie iets waarna almal kan uitsien nie. Daar is volksgenote wat niks
het om na uit te sien nie. Hulle toekoms is donker. Geen werk, geen
besittings, geen geld, geen kersete, geen kersgeskenke, geen familie
wat kom kuier nie. Niks nie. En daar is niks om oor opgewonde te raak
nie, want sien, hulle kans op 'n beter lewe word in die wiele gery
deur rasstellende aksie en swart bevoordeling. Dit is mense wat ander
mense in die oë moet kyk net vir hulle daaglikse brood. Mense in wit
plakkerskampe en welsynshuise. En dit is ons mense. Hulle het nie
gevra om daar te wees of om in hierdie omstandighede te wees nie. Maar
hulle is daar en het hulp nodig.

Bravoland is 'n kubertuiste vir ons mense, maar ons voel dat ons mense
is meer as net diegene wat ons op die rekenaar kan besoek. Ons mense
is al ons volksgenote. Ook die wat hulle in sulke moeilike
omstandighede bevind. Dit is hartverskeurend om te dink dat daar
kinders is wat nie eers na 'n kersete kan uitsien nie, wat nog van 'n
kersgeskenk.

Daarom het ons in die verlede en wil ons weer nou in Desember na
hierdie mense uitreik. Ons beplan om op die 13de Desember die Lochvaal
deurgangshuis naby Vanderbijlpark te besoek. Die beplanning is dat ons
die oggend 'n erediens saam met die inwoners bywoon in hulle eetsaal
(wat ook as kerk gebruik word) wat gelei sal word deur een van
Bravoland se eie dominees. Net voor die diens wil ons vir elke inwoner
ook 'n Bybel gee - voedsel vir die siel. Na die diens wil ons graag
aan elke inwoner 'n geskenkpakkie uitdeel – van die kleuters tot die
bejaardes. Daarna gee ons aan elke inwoner 'n braaipakkie en braai ons
almal heerlik saam. Graag wil ons ook genoeg kosvoorraad aan die
deurgangshuis skenk om hulle verder deur te sien tot volgende jaar
toe.
Maar dit alles kos geld. En Bravoland verdien nie 'n inkomste nie.
Hierdie aksie is slegs moontlik omdat ons daartoe bydra. Daarom wil ek
graag 'n beroep op almal doen om te help deur 'n skenking te maak. Dit
kan geld, kos, geskenke, klere, enige iets wees – maar groot asseblief
help ons om hulle te kan help. Kom ons sit weer 'n glimlag op 'n kind
se gesig en 'n huppel in 'n ou mens se stap. Hierdie mense kan nie
help vir die omstandighede waarin hulle verkeer nie, maar ons beskeie
bydraes kan 'n baie groot verskil maak in hulle lewens. En dan nooi ek
u, kom saam met ons op die 13de na Lochvaal. Kom ons wys vir hierdie
inwoners daar is baie mense wat vir hulle omgee. U sal dan ook die
ware boodskap agter Kersfees self ervaar naamlik:

Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet
help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het:
Dit is saliger om te gee as om te ontvang.
(Handelinge 20:35)

Dit is altyd moeilik om te besluit wat moet nou eintlik in die
geskenkpakkies wees. Daarom wil ons almal se hulp inroep deur 'n
kompetisie te hou. Die inskrywing wat vorendag kom met die beste
geheel voorstel, dit beteken 'n voorstel van 'n geskenkpakkie vir elk
van die groepe hieronder, staan 'n kans om 'n splinternuwe NOKIA N73
mobiele telefoon te wen ter waarde van ongeveer R3,500.00. Omdat
Bravoland nie oor onbeperkte fondse beskik nie, beperk ons die waarde
per geskenkpakkie tot 'n maksimum van R50.00. Almal van Bravoland kan
deelneem. Die Volksraad sal die wenner bepaal en die Volksraad se
besluit is finaal. Die sluitingsdatum vir die inskrywings is middernag
van 3 Desember 2009. Die wenner sal op 10 Desember 2009 aangekondig
word. Daar is nie baie tyd oor nie en dié wat deelneem moet gou spring
en hul inskrywings instuur na: scburger@bravoland.co.za of u kan dit
faks na 086 666 7740. U voledige naam asook forumnaam en
kontakbesonderhede moet op u inskrywing verskyn.

Die inskrywing moet die volgende bevat:

- Voorgestelde inhoud (item moet beskryf word) van geskenkpakkie per groep;
- Voorgestelde leweransier van elke item;
- Prys vir elke voorgestelde item.

Die groepe is:

MANS
DAMES
DOGTERS - 1 tot 4 jaar
DOGTERS - 5 tot 9 jaar
DOGTERS - 10 tot 15 jaar
DOGTERS - 16 tot 18 jaar
SEUNS - 1 tot 4 jaar
SEUNS - 5 tot 9 jaar
SEUNS - 10 tot 15 jaar
SEUNS - 16 tot 18 jaar

Onthou u moet vir elke groep hierbo 'n geskenpakkie saamstel om te
kwalifiseer vir die prys!

Sou u graag 'n finansiële bydrae wou maak vir die kersaksie, dan kan u
dit steeds doen deur die geld te deponeer in een van die volgende
rekeninge:


Volkshulp Bankrekening Besonderhede

Naam: Bravoland Ondersteuners Klub
Bank: ABSA
Tipe: Tjek
Tak: Mosselbaai
Rek nr: 407 1429 502
Verwysing: Kersaksie

Rek naam : Oranjekas Spaar en Krediet
Rek no : 27 124 0490
Tak kode : 01 05 45 (Silverton)
Tipe : Tjek
Verwysing : Bravoland

Al die fondse wat so ingevorder word sal aangewend word vir Kersaksie 2009.

Kom ons maak van hierdie 'n grootse aksie.

Boere groete.

No comments: