Monday, November 16, 2009

Bravolanders en die Voortrekkermonument

Bravolanders was uiters verbaas toe die nuus breek dat hulle belet is
om bepaalde punte by die Monument te betree. Dat iemand belet word
weens sekere handelinge, kan moontlik meriete hè, maar om te
veralgemeen is werklik swak smaak.

Toe die President van die Verkenners later 'n skrywe ontvang waarin
te kenne gegee word dat mense wat hulle wangedra, optrede kan verwag,
het dit minder logies geword waarom die beletsel dan op Bravolanders
van toepassing gemaak kon word.

Bravolanders het talle jong, beskaafde burgers, maar ewe so is daar
die gryskoppe wat verstom is dat hulle nou ook belet word om daar
teenwoordig te wees. Nou blyk dit dat Bravolanders, en blykbaar ook
Verkenners daar mag opdaag, solank hulle nie inmeng nie.

Nou waarom dan nou 'n beletsel plaas op honderde Bravolanders waarvan
daar myns insiens hoogstens twee of dalk drie persone is wat vir die
Generaal probleme gegee het. Waarom nie maar vir die prokureur Jan vra
om vir hulle elkeen 'n brief te skryf en hulle belet nie; nee, nou
word ek en jy wat baie onskuldig is, onder dieselfde juk gebring. Dit
is nou nie iets om oor skaam te voel nie, want onskuldiges het nie
nodig om die Generaal te gehoorsaam nie. Onskuldige Bravolanders sou
daar kon opdaag en niemand sou dit kon waag om aan hierdie mooi
welopgevoede Bravolanders iets te doen nie.

Kom ons wees meer prakties. Hoe gaan enige iemand weet as ek en jy
daar opdaag dat ons as Bravolanders nie daar op gegewe plekke mag wees
nie – want wie gaan verklaar dat ons Bravolanders is. Tweedens: Soos
die Generaal dit gestel het, sal niemand iets aangedoen word wat binne
die wet optree nie. Ag nou ja, dan wil dit mos lyk asof enige
Bravolander wel besoek kon bring, solank daar nie "ingemeng" of moes
dit gelees het "vermeng" het met die vreemdes in ons poorte nie.

Maar daar is ook 'n ander sy van die saak: As Afrikaners nou hierdie
houding inneem, dan ontketen dit argwaan en aggressie – veel eerder
moes die Generaal 'n brief gerig het en al die Verkenners en
Bravolanders vriendelik uitgenooi het na die betrokke geleentheid. Dan
het hy die visie van 'n leier openbaar – en die guns van almal op hom
verenig. Dan, soos in elke geval, of dit nou wie is, kan daar opgetree
word teen enige persoon wat "vermeng" met die amptenary of wie ook
almal wat na aan die hart van die Generaal en sy prokureursvriend Jan
is.

Dit bring mens by die slotsom – enige persoon wat nie volgens die
reëls van die Generaal optree nie, staan 'n kans dat daar teen so
iemand opgetree kan word. Nou, waarom dan Bravolanders oor die
algemeen kom staan en kwaad maak. Dit wil dus voorkom dat die
Bravolanders wat tot hede 'n finansiële bydrae gemaak het, dit sal
moet heroorweeg.

Daar kan moontlik regsmening verkry word oor die wettigheid daarvan om
Bravolanders wat die afgelope vyf jaar nie naby die terrein was nie,
nou te belet om dit te betree. Die rede is eenvoudig: Daar is honderde
mense wat nie burgers is van Bravoland nie, wat weet dat ek en jy
Bravolanders is, en wat nou vraagtekens plaas oor ons handelinge.

Miskien het die Generaal nie mooi gedink nie – maar net miskien het hy
mooi gedink, en wil hy eerder die volksvreemdes by ons erfnis ontvang
– Bravolanders is tog Afrikaners.

Sou dit dalk die rede wees waarom die Generaal sulke snaakse dinge
toelaat, nee, sulke snaakse dinge reël dat hy nou die vreemde naam
gekry het van "pienk"? Ons sal ernstig moet besin oor ons finansiële
ondersteuning solank hy die amp van Generaal-van-die-Monument beklee.

Ons verfoei sy optrede – en ons sal ons nie deur sy
kamma-weermag-houding laat intimideer nie!!

No comments: