Friday, June 12, 2009

Skep jou eie toekoms - Amptelike persverklaring uit Bravoland

Die Afrikaner moet besef in 1994 het hy alles verloor wat hy eens
opgebou het in Suid-Afrika. Tans is talle daarvan vervalle of verwoes
en dit wat oor is, se naam word verander of verengels, net om die
Afrikaner tot die besef te bring dit behoort nie meer aan hom nie.

So is dit ook met die Universiteite en staatskole. Dit behoort aan die
staat en die staat word deur die ANC regime beheer. Hierdie regime het
ten doel om 'n revolusie te laat plaasvind en die Afrikaner en sy
strukture pas nie in by hierdie beplanning nie. Dit is sinneloos om
hierdie revolusie te probeer keer, alle pogings om dit te probeer
keer, stel slegs die kwade dag. Hierdie energie kan beter aangewend
word.

As die Afrikaner wil oorleef in die Nuwe Suid-Afrika, sal hy vir
homself sy eie toekoms moet skep. Sy eie strukture daar moet stel wat
hy self beheer.

Voorbeelde hiervan bestaan reeds. Toe die SAUK die ANCBC geword het,
is Radio Pretoria geskep. Vandag is Radio Pretoria 'n baken van hoop
en 'n toonbeeld van 'n volk se wil om te oorleef in die donkerste van
kontinente. Dieselfde geld vir die skoolstelsel. Daar was gelukkig
mense met visie, wat 15 jaar gelede reeds besef het dat die ANC regime
se doel is om alle Afrikaanse skole te verengels en die skole te
gebruik om hulle revolusionere propaganda te versprei. Daarom het
hierdie visionere die BCVO gestig en hieruit is gebore die
onafhanklike Afrikaanse eksamenraad. Vandag word daar twee Afrikaanse
matrieksertifikate in Suid-Afrika erken. Die van die staat en die van
die OAE. Universiteite aanvaar die OAE se matrieksertifikaat met ope
arms, oor die standaard van die staat se matrieksertifikaat is daar
talle vrae. Die volgende logiese stap sal wees om onafhanklike
Afrikaanse universiteite daar te stel gebaseer op westerse eerte
wereld standaarde. Hierdie droom is baie naby daaraan om 'n realiteit
te word!

Hierdie strukture kos egter geld, daarom is dit belangrik om 'n eie
ekonomie binne die ekonomie te skep. Die eerste stappe in hierdie
verband is reeds geneem met 'n eie bank wat gestig is. So ook eie
sakekamers, wat van krag tot krag groei ten spyte van die moeilike
ekonomiese toestand waarin die land verkeer.

Laat die regime dus voortgaan met sy swart ekonomiese bevoordeling, om
dit te probeer stop is sinneloos. Om dit te ondersteun is net so
sinneloos, want alhoewel dit mag voorkom of net die pinkie nou gevra
word, sal die hele hand uit eiendelik gegryp word.

Die Afrikaner is besig met sy eie ekonomiese bemagtiging. Uit hierdie
ekonomie sal die Afrikaner weer sy eie strukture daar stel. Strukture
wat hy self sal beheer en wat nie afgetrek sal word na 'n Afrika
standaard toe nie. Hierdie strukture word op 'n eerste-wereld
standaard gehandhaaf, soos waaraan die Afrikaner gewoond is en waarmee
die Afrikaner gemaklik voel.

'n Uitdaging waarmee die Afrikaner ook sit, is dat niemand 'n mandaat
het om namens hom op te tree of na sy belange om te sien nie. Daarom
is ek opgewonde oor die proses wat die VVK begin het. 'n Proses waar
daar 'n demokratiese raad verkies gaan word wat 'n mandaat sal besit
om namens die Afrikaner op te tree en na sy belange om te sien.

Dit is egter tyd dat elkeen hand in eie boesem steek. Dat die
strukture wat reeds geskep is ondersteun word en dat daar 'n toekoms
verseker word vir ons en die wat na ons as Afrikaners gebore word in
hierdie land.

1 comment:

Unknown said...

Dis opwindend dat daar meer Afrikaners is wat besef dat ons ten eerste self vir ons toekoms verantwoordelik is, en dat mens soms jou neerlae moet erken, en dan die volgende veldslag des te beter beplan en tot aksie oorgaan.

Feitelike korrektheid is egter van groot strategiese belang: dit kan dodelike gevolge hê as jou inligting nie korrek is nie.

Let dus op die volgende feitelike sake:

1. Die OAER (nie OAE nie), wat aan die BCVO behoort, is een van twee onafhanklike eksamenrade. Die ander een is die Independent Examination Board (IEB) wat ook al baie jare sy eie eksamens aanbied.

2. Die IEB bied sy eksamens ook in Afrikaans aan, en tel onder andere die Olifantshoek Akademie vir CVO as een van sy eksamenskole. Die IEB is dus deel van die Afrikaanse eksamenwese en is 'n faktor wat verdiskonteer moet word as daar oor die toekoms van Afrikaneronderwys besin word.

3. Die "onafhanklikheid" van beide van hierdie sogenaamde onafhanklike eksamenrade is beperk: beide staan onder Umalusi se sogenaamde toesig, wat op 'n groot mate van beheer neerkom. Die vraestelle mag byvoorbeeld nie uitgaan alvorens Umalusi se moderering daarvan afgehandel is nie, en as jy die Umalusi-verslae lees, is daar bv meer as een OAER-vraestel verlede jaar (2008) aanvanklik afgekeur en is deur Umalusi beïnvloed.

4. Die matrieksertifikaat lyk vir staat, IEB en OAER presies dieselfde. Inteendeel het die debakel oor die laatuitreiking van die amptelike sertifikate net weer gewys hoe afhanklik ook die OAER en IEB van Umalusi se nukke, grille is. As jy een van die "onafhanklike" eksamens gedoen het, het jy darem die voordeel van 'n bykomstige sertifikaat van die eksamenliggaam wat jy - as die burokrasie jou die kans gee by jou tersiêre inskrywing - kan wys.

5. Die OAER het baie werk aan die gehalte van sy aanbieding: die Umalusi-verslae oor vorige eksamens het probleme uitgewys. Dit word gehoop dat die saak van laatvoorlegging van vraestelle van 2008 bv nie nou in 2009 weer voorgekom het nie.

Groete
Leonard van der Dussen
Selfoon: 082-5732-732