Monday, November 3, 2008

Die belangrikste besluit van jou lewe

Die belangrikste verantwoordelikheid wat ooit aan 'n mens toevertrou
kan word, is kinders.

Die belangrikste besluite wat jy ooit in jou lewe neem, is die
besluite in verband met jou kinders.

'n Besluit oor 'n huis of 'n motor wat gekoop moet word, selfs oor jou
eie loopbaan, is gering in vergelyking met dit wat jy oor jou kinders
besluit.

Jou besluite oor jou kind reik tot ver in die toekoms: Dit beïnvloed
sy lewe, sy lewensgehalte, die sin van sy bestaan en die lewe van sy
volk en nageslag. Dit is iets waarmee doopouers nie ligtelik durf
omgaan nie.

Ons volk se kinders was nog altyd die prooi van ons vyande. Tydens die
Tweede Vryheidsoorlog het Engeland 22 000 Boerekinders vermoor. Dié
wat oorleef het, se siele het hulle probeer vernietig in
konsentrasiekampskole, en na die oorlog in staatskole.

Gelukkig het ons voorouers die verstand en die durf gehad om ons eie
Christelik Nasionale skole te stig om ons kinders te red.

Vandag is ons kinders weer die prooi van 'n vyandige oorheerser. Die
nuwe Suid-Afrika se staatskole is veel eerder sentrums van
maatskaplike manipulasie en identiteitsafkraking as van opleiding of
opvoeding.

Staatskole stel ons kinders bloot aan gruwels wat strek van lae
akademiese standaarde, vals geskiedenisvertolking en gelykstelling van
God aan afgode, tot vernedering, molestering, aanranding en selfs
moord op wit kinders.

Ja, ons gee toe dat daar nog staatskole is waar die hoof nog op die
regte pad is en nog nie, soos by Hoërskool Ermelo, daaroor afgedank is
nie.

Die feit is dat 'n staatskool waar dit goed gaan steeds deel van die
staat se onderwysstelsel is. Dis 'n trok waarin dit goed gaan aan 'n
trein wat besig is om oor die afgrond te stort.

Daarteenoor is dit vir enige kind voordelig om skool te gaan saam met
maters van dieselfde taal, beginselgrondslag, kultuuragtergrond en
akademiese ingesteldheid. Hoekom moet ons kinders wag vir agterblyers?

Die onderwysers en ouers van kinders in eie skole is van 'n besondere
kaliber: Hulle is die baanbekers wat voorloop om 'n toekoms te
verseker, die daadkragtiges wat nie bang is om uitdagings aan te pak
en te oorwin nie, die verantwoordelikes wat nie met hulle kinders se
lewe en toekoms dobbel nie, die onstuitbares wie se Godsdiens en
waardes ononderhandelbaar is, die skranderes wat 'n situasie kan
beoordeel en 'n oplossing vir probleme kan vind.

Dit is die soort mense met wie 'n mens 'n pad kan loop en natuurlik
sal hulle kinders deur oorwerwing en opvoeding ook uitblink.

As ons almal daardie suiwer gees openbaar en al ons kinders in
volkseie skole plaas, sal volkseie onderwys die ouer minder geld kos
as die afbrekende staatsonderwys.

Dan kan ons volkseie onderwysers ook die salarisse ontvang wat hulle
as helde van ons volk verdien.

Dis nóú die tyd om die belangrikste besluit van jou lewe te neem: Gaan
jy jou kind as prooi vir ons vyande aanbied of gaan jy hom 'n lewe en
'n toekoms gee?

Waar gaan jy jou kind volgende jaar laat skoolgaan?

http://www.radiopretoria.co.za/Nuuskommentaar.html


Besoek gerus die volgende skakels vir meer inligting vir puik onderwys
, hul webwerf, daar is ook 'n lys van skole:

http://www.bcvo.co.za/

En hul kontaklys:

http://www.bcvo.co.za/skl/bcvoSkole2008.pdf

No comments: