Friday, June 5, 2009

"Volksekonomie"

Geagte Vriende,

• Word nou deel van Oranjekas deur aandele op te neem en so u
lidmaatskap te bevestig. Minimum aandele wat bekom kan word is 5 @
R100 elk. Skakel gerus Oranjekas vir meer inligting.


• Oranjekas poog om 'n volkseie instelling te word deur te registreer
as 'n Koöperatiewe Bank. Wys u ondersteuning vir die Volksekonomie
deur aandele op te neem!


• Hoe meer mense direk by Oranjekas spaar en belê, hoe vinniger kan
Oranjekas u al die dienste bied wat enige kommersiële bank u kan bied.


• Spesiale tariewe kan beding word deur Volkseie organisasies wat
rekeninge wil oopmaak.


• Help ons bou aan 'n toekoms vir die Afrikaner deur 'n Volkseie
ekonomie te vestig!

Vir meer inligting en kontak besonderhede, besoek gerus:

http://www.oranjekas.co.za/

Wednesday, June 3, 2009

Bravolanders se gedigte

Oproep

Ek is gebore in Afrika, ek is 'n Afrikakind
Eeue gelede het my voorsate skuiling hier gevind.
Maar nou is ek onderdrukker, gehate, 'n pes.
My familie en vriende uitgemoor met geweer en mes.

Soos skape het ons gevolg wie ookal lei,
gedoen wat ons wil, teen die hele wêreld vry.
Nou is ons herderloos, soekend en verloën,
vergete ons godsdiens, tradisies, ons Afrikadroom.

Ons het gewoon waar ons wil, gekom en gegaan
eie skole, eie kerke en lande vol graan
ons bly nou in tronke, te bang om te reis
ons skole swart en ons plase geëis.

Word wakker my Volkie, dis amper te laat,
ons eie mense staan en bedel op straat.
Verblind was ons, getrap in 'n strik,
maar staan nou saam en God sal beskik.

Heiletje Olivier

Friday, May 15, 2009

Antwoorde op aantuigings teen ons

Dit het aan die lig gekom dat mnr. Gert Opperman die volgende skrywe per
e-pos versprei het om ons, die PVJ, in 'n slegte lig te stel. Ons stuur dit
aan u om enige onduidelikhede wat daar tans mag bestaan, sowal as
wanopvattings wat later sou kon ontstaan, uit die weg te ruim.

Hier volg eers die brief van mnr. Opperman en daarna volg ons antwoorde.

----------------------------------------------------

Geagte Vriende

Geliewe kennis te neem dat 'n groep van 17 lede van die Verkenners Jeug
(Konserwatiewe kultuurorganisasie wat destyds as teenvoeter vir die
Rapportryerbeweging gestig is en nie verwar moet word met die Voortrekkers
se Verkenners nie), op Saterdag, 10 Mei) die VTM Geskenkwinkel beset het uit
protes teen "volksvreemde items" (lees onder andere die "nuwe" landsvlag),
wat daarin verkoop word.

Ons was voorbereid daarop, alhoewel die President van die Verkenners vooraf
pertinent ontken het dat daar só-iets beplan word. Die besetters het
aanvanklik gedreig dat hulle deurnag daarin sou bly totdat die "ongewensde
items" verwyder is, maar is kort na 18h00 deur die SAPD oortuig om die
terrein sonder verdere insident te verlaat. Die alternatief was dat hulle
gearresteer sou word en die nag in Pretoria Sentraal sou moes deurbring het,
iets wat ons ook nie graag wou gehad het nie.

Hulle het wel 'n protesskrif aan my geadresseer agtergelaat, maar dit het
nie veel nuuts bevat nie.

Mev Crous, die winkeleienaar, was deurentyd teenwoordig en het na afloop
daarvan haar tevredenheid uitgespreek met hoe die saak vanaf ons kant en
deur die SAPD hanteer is.

Ongelukkig steun hierdie groep op onwaarhede om hulle weergawe van die
situasie meer geloofwaardig te laat klink. Graag word kategories bevestig
dat dit nie waar is nie:

a. Dat ek nie op hulle vertoë gereageer het nie. Hulle het
wel nie hulle sin gekry nie, wat nader aan die waarheid sou gewees het.
(Daar is bv vooraf 'n lang brief – soos aangeheg - en opvolg elektroniese
boodskap aan hulle gestuur in reaksie op hul aanvanklike klagtes).

b. Dat ek nie gereageer het op hulle versoeke vir 'n
vergadering nie. Benewens bovermelde skrywe en die opvolg elektroniese
boodskap, het ons het nog verlede week 'n afspraak met mnr Henk van der
Graaf, omroeper van Radio Pretoria en terselfdertyd President van die
Verkenners , gehad. Hy het ontken dat hy enigiets van só 'n beplande aksie
weet en sou my Donderdag kom sien het, net om Donderdag-oggend op navraag te
laat weet dat hy "nie meer kon kom nie omdat hy na Nampo te Bothaville moes
gaan". Hy was egter vanoggend reeds weer aktief as omroeper op Radio
Pretoria, om 'n onderhoud met sy betrokke organisasielede oor die
besettingsaksie te kon voer (wat 'n groot vraag plaas oor sy objektiwiteit
as omroeper).

c. Dat daar kopdoeke in die geskenkwinkel is met Winnie
Mandela se foto op, louter snert!

Die VTM se uitgangspunt bly soos volg:

a. Die VTM is 'n private maatskappy onder beheer van 'n eie
direksie, wat na die beste van sy gewete en vermoë onder andere teen 'n wins
moet handel dryf om vir sy eie oorlewing te help sorg.

b. Sekere van ons fasiliteite op die terrein is
uitgekontrakteer aan privaat ondernemers, wat die reg het om hul besigheid
met die oog op eie wins of verlies te bedryf. Alhoewel ons van hulle verwag
om dit binne die etos van die VTM te doen, is dit hulle goeie reg om op die
grondslag van billike vraag en aanbod produkte te verskaf om aan die
behoeftes van hul publieke te voldoen.

c. As ons nie aan die aanvraag voldoen nie, sal die besoekers
net elders die produkte wat hulle verlang, aankoop, Alhoewel ons hoegenaamd
nie 'n tweede Dieretuin-verkoopplein is of wil wees nie, moet ons aanvaar
dat veral buitelandse besoekers soms iets anders as bloot ossewaens en
dolosse wil koop.

d. Myns insiens het die argument oor die "nuwe" landsvlag sy
relevansie verloor. Die ou Republiekvlag is vir alle praktiese doeleindes
reeds amper vergete en ons het sedert 1994 'n ander landsvlag, ongeag hoe
lief ons vir die ou vlag was en of individue of groepe van die "nuwe" een
hou of nie. Van ons jonger kinders is onder die "nuwe" vlag gebore en ken
geen ander een nie. Om nou skielik by die ou Republiekvlag (wat ook vir
"Regses" skielik nie meer aanvaarbaar is nie), verby te wil terugbeur na die
Vierkleur en die Vrystaatse vlag, is om die verlede ten koste van die hede
en die toekoms te wil herkonstrueer.

e. Die betrokkenes begin hulself nou net eenvoudig té veel
aanmatig. As hulle nie die landsvlag afneem by 'n jong Voortrekkertjie
tydens 'n konsert in die VTM nie, of aktiwiteite te Bloedrivier probeer
ontwrig omdat hulle nie daarmee saamstem nie, begin hulle nou ook al poog om
aan ons voor te skryf oor hoe ons die VTM en die geskenkwinkel moet bedryf.
Dit sal nie geduld word nie.

f. Daar sal nie toegelaat word dat ons huurders of enige van
ons besoekers of die gebruikers van ons fasiliteite, of die lede van die VTM
se bestuur, deur dreigemente geïntimideer word nie. As dit nodig is, sal
daar, sonder aansiens des persoons, baie streng opgetree word. Dieselfde
benadering geld tov aktiwiteite wat plaasvind in die Monument of by enige
ander terrein wat onder die VTM en die Erfenisstigting se beheer val.

Vriendelike groete

Gert Opperman

Hoof Uitvoerende Beampte

Die Voortrekkermonument en Die Erfenisstigting

Tel: (012) 326 6770

Fax/faks: 086 635 4683

Sel/cell:083 300 4580


------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------


Die Pretoria Verkenner Jeug (PVJ)wil graag hiermee antwoord op 'n brief van
mnr.Opperman wat deur homself aan verskeie mense gestuur is. Alhoewel dit
ons nie verbaas nie, vind ons dit uiters teleurstellend dat hierdie aanval
op die PVJ nie aan onsself gerig is nie.

Ons antwoord nou puntsgewys op die stellings in sy brief.

A Op die aanklag dat ons gesê het dat mnr. Opperman nie op ons vertoë
gereageer het nie wil ons noem dat ons nooit gesê het dat hy nie gereageer
het nie. Wat ons wel gesê het, is dat hy nooit bevredigend gereageer het of
aan ons versoek voldoen het nie. Daarom het ons ook met aksie voortgegaan.
Wat ons wel gesê het is dat die winkeleienares nooit op ons e-posse
gereageer het nie. Dit het sy self ook erken en gesê dat sy dit nie nodig
geag het nie.

B Op hierdie punt wil ons net weet hoekom die VTM bestuur nooit met die
PVJ bestuur kontak gemaak het oor die moontlikheid van samesprekings nie,
aangesien dit ons is wat die aksie geloods het. Waarom dan met mnr. Henk
van de Graaf praat wat die nasionale president is van die
Verkennersbeweging?

C Op punt C wil ons reageer deur te sê dat dit mnr. Opperman is wat
onwaarhede versprei. Die PVJ het nooit iets van dié aard gesê nie. Sy
wanindruk kom moontlik van die Praag artikel wat verwys het na die NSA vlag
as Winnie se kopdoek. Mnr. Opperman moet nie woorde in die PVJ se mond lê
nie.

Verder antwoord ons op die VTM se uitgangspunt soos in hierdie brief
uiteengesit.

A Die VTM is hiervolgens 'n private maatskappy wat impliseer dat daar
aandeelhouers is wat winste trek. Intussen het mnr. Opperman in sy brief
aan die Verkenners pertinent gesê dat die VTM 'n Artikel 21, dus 'n
nie-winsgewende organisasie is.

B As die winkel uitgekontrakteer is, hoe klop dit met punt A hierbo wat sê
dat hulle afhanklik is van die winste?

Verder noem hulle die etos van die VTM. As goedere soos kondome binne
hierdie etos raamwerk aanvaarbaar is, wat sê dit dan van die VTM etos?

C 'n Toeris wat die moeite doen om die VTM te besoek sal juis iets wil
koop om te wys dat hy juis daar was i.p.v. iets wat hy op enige ander plek
in SA kom koop. Of is daar toeriste wat SA besoek net om by die VTM te kom
kuier?

D Die Republieksvlag is lank nie vergete nie. Die kinders wat onder die
nuwe vlag gebore is en nie enige ander vlag ken nie is dié wat nie deur hul
ouers oor hul geskiedenis ingelig is nie. Enige trotse Afrikaner lig hul
kinders behoorlik hiervan in. Niemand "herkonstrueer" die verlede nie, maar
as jy nie weet waar jy vandaan kom nie, sal jy nie weet wie jy is nie en sal
jy nooit kan droom oor wat jy nog kan wees nie.

E Die Verkenners is nie verantwoordelik vir enige van hierdie twee gevalle
nie, maar ons is dankbaar dat mnr. Opperman noem hoeveel mense en/of
organisasies alreeds sigbaar teen hulle te velde getrek het oor hul
volksvreemde bedrywighede.

F Die Verkenners het nooit enige huurder, besoeker, gebruiker van VTM
fasiliteite of bestuurslede van die VTM gedreig nie. Inteendeel het ons die
geskil baie vreedsaam hanteer.

Mnr. Opperman beweer dat ons op onwaarhede steun om aan onsself
geloofwaardigheid te verleen. Dit blyk egter of dit eerder die VTM is wat
oningelig is. Die PVJ is 'n Christelike organisasie en ons sal nie van
leuens gebruik maak nie. Die VTM, soos dit blyk uit die inhoud van hul
winkel, het alle Christelike waardes laat vaar en daarom verbaas dit ons nie
dat hul wel van so 'n strategie gebruik maak nie.

Pretoria Verkenners Jeug bestuur
verkennersjeug@gmail.com


--
Werner Smook
Voorsitter: Verkenners Jeug Pretoria

"Volkskultuurfees"

Stalletjies

Soos by al die vorige feeste wat by Paardekraal aangebied is in 2008,
sal daar ook by die Volkskultuurfees van 30 Mei 2009 stalletjies wees.
Die kerke van Krugersdorp sal die kos stalletjies beman en daar sal
ook verskeie ander stalletjies wees. Van die stalletjies wat daar sal
wees is:

Die Verkenners beweging - Inligting stalletjie.

CVO Brandwag - Inligting stalletjie

Oranjekas - Inligting stalletjie waar daar ook rekening op die dag oop
gemaak sal word.

Ons vir jou - Inligting stalletjie van die musiekblyspel.

Oranje Sakekamer Wesrand - Inligting stalletjie

Camdix - Uitstalling van militaria

VVK - Inligting en registrasie punt

GK267 - volkseie aandenkings

Bravoland - Volkseie aandenkings

Daar sal ook verskeie boekverkopers wees.

Indien enige persoon belangstel om 'n stalletjie te beman by die fees,
kontak my gerus by ben@bravoland.co.za

* Nuus: Volksraad Verkiesing Kommissie *

Beste Vriende,

Sedert einde 2008, maar veral die afgelope maande, is 'n uiters
belangrike herskikking besig om in ons volkslewe plaas te vind.

Dit speel af op politieke front, maar raak veral ook duidelik uit die
nuwe posisionering van sekere konglomerate wat vry algemeen tot dusver
as "volksorganisasies" deurgegaan het; en plotseling met vreemde maats
in die bed skyn te wees.

Soos gewoonlik, is hierdie verwikkelinge nie noodwendig goeie nuus in
ons worstelstryd om vryheid nie. Duidelik sal hierdie stryd uit 'n
suiwer logika-oogpunt al hopeloser word indien ons gewone volksgenote
op die grond nie dringend bemagtig word tot seggenskap in ons toekoms
nie - en dit geld nie net in die konteks van ons teenoor ander volkere
nie, maar veral ook op interne vlak binne die volk.

En juis dáárvoor werk die VVK - met alles wat ons is en alles wat ons
het... enduit.

Soos altyd wanneer ons volk aan homself oorgelaat is om hom aan sy
skoenrieme op te trek, gaan die VVK-inisiatief egter nie gepaard met
miljoene in die bank en 'n groot, betaalde personeelkorps nie. Ons
werk word gedoen danksy bittereinder-mense en organisasies wat
oorgebly het om die stryd in ons dag, in goeie trou te stry.dieselfde
beproefdes en vertroudes wat soveel al gedoen en opgeoffer het.

Maar hoekom sou hulle wéér probeer; weer opoffer?

Wat die VVK-inisiatief hierdie keer vir diesulkes inhou, is dat dit
gebou en gestruktureer is op sodanige wyse dat dit om die volk en die
volk alleen draai; dat ons die leisels van interne besluitneming oor
ons noodlot vir eenmaal (sedert 1902!) in volkshande plaas; en dat die
volksaak hierdie keer nie in die rug gesteek KAN word nie.

Duisende volksgenote besef dit; en het reeds dienooreenkomstig
gereageer. En soos wat die deure elders een vir een in hierdie volk se
gesigte toegeklap word, sal ons werk net vinniger en vinniger momentum
gegee word soos wat dit deur meer en meer gewone mense op straat besef
word. Harde werk is al gedoen, en daar lê nog harder, maar opwindende
werk voor! Hoe meer hande wat die wa help trek, hoe vinniger span ons
weer uit in die "Bedoelde Land".

Sedert ons laas gesels het in hierdie rubriek, moes ons in die
Sentrale Komitee (SK) afskeid neem van "Tannie Bets". Bets Botha het
weens nuwe persoonlike uitdagings versoek om, vir die oomblik altans,
verskoon te word van die SK. Ons groot dank word hiermee uitgespreek,
nie net vir haar belangrike insette in VVK-verband nie; maar vir alles
wat sy al vir haar volk beteken en geoffer het en steeds bly doen.
Haar moed en inspirasie het ons tot voorbeeld geword!

Gelukkig word die SK aangevul met "nuwe bloed" in die vorm van ons
vaardige Openbare Betrekkinge Beampte, Quintin Diederichs. Quintin
werk met die ywer en begeestering kenmerkend van die jonger
lewensjare, en het reeds 'n GROOT verskil gemaak - en dit is waaroor
dit gaan. Hartlik dank vir jou harde werk en die opgewekte luim waarin
jy dit doen, Quintin!

Ons is ook dankbaar vir die insette van Theo Kruger, wat intussen as
Algemene Verkiesing Streek-koördineerder in die Groblersdal-omgewing
doenig geraak het.

Verder het Willem ("Willie") Steenkamp ook begin help as Verkiesing
Streek-koördineerder (VSK) van Streek 17: Brittanje, Noord-Ierland en
die Ierse Republiek. Willie kan ook Registrasie Beamptes (RB's) daar
aanstel; en gegewe die hoeveelheid van ons mense daar, weet ons daar
lê harde werk vir hom voor. Hiermee weereens DANKIE aan jou, Willie!

Dankie aan Franz Conradie wat uit Orania laat weet het dat hy bereid
is om te help met die dokumentêre dvd-produksie. Onthou, daar is 'n
staande uitnodiging aan almal van julle om film-materiaal beskikbaar
te stel wat ons volkslewe in al sy fasette, beide in verlede en in
hede, uitbeeld vir moontlike gebruik in ons dvd.

Die beplande toer van ons VSK , Henk van de Graaf, en andere na
Australië later vandeesmaand is ongelukkig uitgestel na Oktober. Dit
beteken dat ons volksgenote aldaar se vele versoeke om as kiesers
geregistreer te kom, nog nie op hierdie stadium aangespreek kan word
nie. Kan iemand wat daar woonagtig is en in Suid-Afrika op besoek is
of eersdaags hierheen kom, ons ASSEBLIEF kontak sodat ons 'n VSK en
RB's daar in plek kan kry? (Dieselfde geld vir Kanada en Nieu Seeland)

Maak gerus 'n draai by die Geloftefeesterrein van Potgietersrus om
10h00 op 23 Mei of op 30 Mei by die Paardekraal-feesverrigtinge, as
enigeen persoonlik met ons wil skakel.

Groetnis van huis tot huis tot volgende keer, en onthou gerus die
volgende aanhaling:

"Dit het my yskoud gemaak van vrees" (Winston Churchill tydens sy
gevangeskap in die Tweede Vryheidsoorlog, toe hy hoor hoe die Boere
saans Psalms sing).

- VVK Sentrale Komitee

Volksraad Verkiesing Kommissie

Vryheid - Eenheid - Geregtigheid

Sunday, May 10, 2009

Voortrekkermonument verset aksie

Die Pretoria Verkenners Jeug het gistermiddag (9 Mei) 'n aksie geloods teen
die verkoop van allerlei ongepaste goedere by die geskenkwinkel van die
Voortrekkermonument. Die goedere het niks met ons volksgeskiedenis te make
nie.
Die aard van die goedere wissel van volksvreemd, volksvyandig, immoreel tot
selfs on-Christelik. Sien gerus die foto's aangeheg.

Ons vra omverskoning vir die lae gehalte van die polisie foto's.

Die klagskrif is aan mnr. Kobus Jacobs, die logistieke bestuurder van die
Voortrekkermonument deur ons sekrataris, mnr. Ruan Combrink oorhandig.

Luister gerus ook die klankbaan van die nuusberig wat dieselfde aand om
8 uur op Radio Pretoria uitgesaai is. Die naam daarvan is: VTM Besetting

Hier volg ons amptelike persverklaring:

--------------------------------------------------------------------

Persverklaring

Ons, die Pretoria Verkenners Jeugpos, het besluit om op 9 Mei 2009 sigbaar
en duidelik protes te lewer teen die volksvreemde goedere wat in die
Voortrekkermonument Geskenkwinkel verkoop word. Die Voortrekkermonument is
eerstens 'n huldeblyk aan die trekkers van die Groot Trek en dus 'n baken
van die Afrikanervolk se vryheidstrewe. Daarom voel ons dat die
geskenkwinkel ook homself uitsluitlik op die voortrekker- en dus die
Afrikanerkultuur behoort toe te spits. Tans is dit nie die geval nie. Eerder
word goedere verkoop wat verteenwoordigend is van organisasies en elemente
wat juis geveg het om weer die Afrikaner van sy vryheid te beroof.

Verskeie pogings is aangewend om op 'n minder sigbare manier die goedere te
laat verwyder. Briewe is gestuur aan Mnr. Gert Opperman, hoof uitvoerende
bestuurder van die Voortrekkermonument asook aan die eienares van die
Voortrekkermonument geskenkwinkel, Mnr. Opperman het daarop geantwoord deur
onder meer te meld dat die winkel verhuur word en deur die eienares vir eie
wins of verlies bedryf word. Geen antwoord is van die eienares ontvang nie.
Mnr. Opperman het na 'n onderhoud met Radio Pretoria, waartydens hy kennis
geneem het van die Verkenners se voorneme, 'n afspraak aangevra tussen
homself en lede van die verkenners. By navraag is egter van Mnr. Willie
Smith, bemarkingsbestuurder, verneem dat Mnr. Opperman eers oor ten minste
'n week sou kon vergader. Dit is 'n doelbewuste sloeraksie wat nie vir die
eerste keer deur Mnr. Opperman gebruik is nie. Ons sien dit as die
lafhartige ontduiking van 'n probleem wat moet aangespreek word. Daarom het
ons hierop besluit om met aksie voort te gaan.

Om ons misnoeë te kenne te gee het 'n groep van ons in die winkel ingegaan
en daarop aangedring dat die goedere verwyder word, waarop die polisie
ontbied is deur mnr. Kobus Jacobs, die logistieke bestuurder. Nadat die
polisie opdrag gekry het van mnr. Jacobs en die winkel eienares om ons te
arresteer, het ons aangebied om vrywilliglik die perseel te verlaat indien
ons 'n klagskrif kan oorhandig. Die klagskrif is oorhandig, sowel as 'n
ampelike steunbrief van die Afrikanerfront wat 25 Afrikaner
volksorganisasies verteenwoordig. Mnr. André Alkema, dagbestuurslid van die
Afrikanerfront was ook teenwoordig.

Daarna moes ons onder polisie begeleiding die perseel verlaat, maar nie
voordat ons deeglik deursoek is en ons voertuie se registrasienommers
afgeskryf is nie.

Dit is uiters teleurstellend dat die Voortrekkermonument se bestuur en die
eienares van die Voortrekkermonumentgeskenkwinkel bereid was om volksgenote
te laat arresteer, omdat hulle opstaan vir die beginsels en waardes wat deur
hierdie eindste monument gesimboliseer word.

Indien nie aan hierdie versoek voldoen word nie sal die Verkenners aanhou
druk plaas op die bestuur van die monument.

Ruan Combrink

Sekretaris: Pretoria Verkenners Jeug.


-------------------------------------------------------------------------

Werner Smook
Voorsitter: Verkenners Jeug Pretoria

Orania Dinee

Mense sê baie keer vir my Orania is net te klein, my teenvraag is
gewoonlik wat het jy gedoen om te help om dit groter te maak. Die probleem
is as volg.

1) Min mense kan Orania toe trek om 'n besigheid te begin as daar nie
arbeid is nie. Maar volgende keer as daar gepraat word oor arm blankes wil
mense weet hoekom ons hulle nie ALMAL daar help vestig nie,
2) Arm blankes
kan nie daar vestig as daar nie werk is nie.
3) Daar moet gesubsidieerde
behuising vir arbeid geskep word. Werkgewers kan nie altyd die koste ook
dra nie.

Dis bietjie van 'n eers die hoender of eers die eier probleem.

Wat van ons hou bietjie op met kla, en sit 'n handjie by. Die Helpsaamfonds
van die Oraniabeweging hou 'n aantal dinees met die gaskunstenaar Steyn Fourie
wat optree om geld in te samel om gesubsidieerde behuising vir blanke
arbeiders op Orania te bou, daar word beoog om die bestaande Elim
Arbeidsentrum te vergroot en die projek uit te brei. Koste: R140
perpersoon vir die vertoning sowel as 'n driegangmaaltyd

Konserte word gehou :

Vrydag 15 Mei - Potchefstroom (Borcherdstraat 78)
Saterdag16 Mei - Pretoria ( Irene Village Hall, Pioneerweg 1)

Vir verdere besonderhede kontak Frans de Klerk – 053 207 0062 of Steve
Horn – 071 670 6395
'n Volkstaat val nie uit die lug nie dit word gebou een steen op n slag!!!

Monday, April 27, 2009

BELANGRIKE VVK NUUS

Beste Volksgenote,

Na afloop van die Majuba-naweek in Februarie, is die VVK weer 'n hele
ent verder in die pad af met die taak om 'n verkiesing onder ons eie
volk te fasiliteer. Groot dank aan almal wat hulle bydrae daartoe
gelewer het!


Op 25 Februarie is Paul Kruger (VVK Voorsitter) genooi deur 'n
sub-komitee van Transvaalse Landou-Unie SA, bestaande uit 'n aantal
van hulle oud-Presidente, om die VVK se rol en strategie aan hulle
uiteen te sit met die oog op moontlike samewerking van TLU SA se kant
af. Die sub-komitee sou terugvoer gee aan TLU SA se bestuurstrukture
ten opsigte van die gesprek, wat uiters positief verloop het. By
skrywe hiervan (26 April 2009) sien ons nog uit na 'n amptelike
besluit deur TLU SA, om ook op staatkundige terrein die wa saam met
die VVK te help trek in ons volk se epiese stryd om oorlewing. Die
sorgwekkende is dat dit die volk 15 jaar geneem het net om met Stap 1
te begin: Die verkiesing van leiers wat met die spesifieke mandaat
beklee is om ons eis vir selfbeskikking in ons eie gebied regmatig te
kan stel. ALLE hande word nou benodig!


Op 12 Maart 2009 het Paul Kruger 'n radio-onderhoud met Prof. Hendrik
van der Wateren (Voorsitter van die Afrikaner Front, 'n
sambreel-liggaam met 25 lid-organisasies waaronder Radio Pretoria, TLU
SA, die HNP, GHA en andere) gevoer. Die Afrikaner Front se
doelstelling word in sy grondwet uiteengesit as selfbeskiking vir ons
volk, en Prof. Van der Wateren het dan ook tydens die onderhoud
bevestig dat die Afrikaner Front-bestuur 'n amptelike besluit geneem
het om die VVK se verkiesingsinisiatief te steun. Ons het met
dankbaarheid daarvan kennis geneem, en doen hiermee 'n beroep op alle
volksorganisasies wat nog nie lid van die Afrikaner Front is nie, om
so gou moontlik julle gewig daar in te gooi. Organisasies wat reeds
lede van die Afrikaner Front is word genooi om dringend met die VVK te
skakel vir beplanning rondom julle bydrae tot realisering van ons
volksverkiesing.


Intussen het ook 'n klomp hande op die dek bygekom as Registrasie
Beamptes en Verkiesing Streek Koördineerders. In laasgenoemde verband
is ons dankbaar teenoor Ds. Du Plessis (vir die streek Wes-Transvaal),
Dr. Pieter Möller (Algemene Verkiesing Streek-Koördineerder), Dr.
Corné van der Walt (Chicago, VSA), G.P de Kock (Orania / Noord Kaap),
Roché van Heerden (Graaff-Reinet / Oos-Kaap), Kobie van der Hoven
(Algemene Verkiesing Streek-Koördineerder en verleen ook hulp aan
Sakkie van der Schyff in die streek Noord-Vrystaat) en Marieke Smuts
(België).

As iemand vanuit die buiteland in Suid-Afrika op besoek is, hoor ons
graag daarvan sodat ons die nodige papierwerk in plek kan kry vir
aanstelling as Registrasie Beamptes en Streek Koördineerders oorsee
wat ons vele volksgenote in verstrooiing kan bedien om geregistreer te
kom. Dit spaar die VVK die onkoste van oorsese reise!


Op 2 April 2009 het die VVK Sentrale Komitee 'n voorlegging namens die
VVK gedoen by die Afrikaner / Zuma beraad en die strekking daarvan
word in die volgende media-verklaring weergegee:


MEDIA-VERKLARING DEUR DIE VVK
na aanleiding van die byeenkoms:

"Afrikaner-leiers in Dialoog met ANC President, Jacob G. Zuma
gehou op Donderdag, 2 April 2009 te Sandton, Johannesburg

Die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) was deur die fasiliteerder
van die byeenkoms: "Afrikaner-leiers in Dialoog met ANC President
Jacob Zuma" na die genoemde byeenkoms uitgenooi. Mnr. Paul Kruger,
Voorsitter van die Sentrale Komitee van die VVK, het die byeenkoms op
2 April 2009 bygewoon en 'n voorlegging daartydens gelewer.

Die Afrikaner-organisasies op die byeenkoms het oor 'n wye spektrum
gewissel van Kerke, kultuur-organisasies, Landbou-organisasies,
vroue-organisasies en die Broederbond tot die Orania-Inisiatief.
Tydens hulle voorleggings, het geen van hierdie organisasies ons volk
se strewe om onsself in ons eie staat te regeer, voorgedra nie.

Mnr. Paul Kruger het die aanwesiges in die volgende terme toegespreek:

1. Dat die Afrikaner- "leiers" op die byeenkoms GEENSINS die politieke
leiers van die Afrikaner is, soos wat Mnr. Zuma die leier van sy mense
is nie; omdat hulle nie demokraties daartoe verkies is nie, soos wat
Mnr. Zuma tot leier van sy belangegroep verkies is.

2. Dat hierdie sogenaamde Afrikaner "leiers" gevolglik GEEN mandaat
het om enige politieke uitsprake namens die Afrikaner te maak nie; en
ten beste beskou kan word as leiers van sekere inisiatiewe wat onder
'n deel van die Afrikanervolk aan die gang is.

3. Dat die Afrikanervolk sedert 1994 inderwaarheid leierloos en
polities onthoof is.

4. Dat die Volksraad Verkiesing Kommissie juis besig is om hierdie
politieke onthoofding op te los, synde in proses om 'n Volksraad te
laat verkies. Die volksverkiesing wat die VVK in proses is om te
fasiliteer, sal 'n vry; regverdige en demokratiese VOLKSverkiesing
wees.

5. In daardie verkiesing word gewone mense tans in die
Boere-Afrikanervolk die geleentheid gebied om as kiesers op ons eie
kiesersrol te registreer; uit vrye keuse Volksraadslede te nomineer;
en nadat die kieserregistrasietydperk afgeloop is, sal hulle uit vrye
keuse vir diegene kan stem wat hulle met hulle politieke toekoms
vertrou.

6. Eers daarna sal die Afrikaner weer oor politieke "leiers" beskik
wat die leiding betreffende ons uiteindelike politieke toekoms kan
neem en in sodanige verband namens ons volk sal kan praat.

7. Dit is prakties onmoontlik vir een Regering om in die uiteenlopende
behoeftes van verskillende volke te voorsien in een Staat met skaars
hulpbronne, deur wetgewing wat almal akkomodeer. Dit is ook die geval
in Suid-Afrika.

8. Dat 'n wesenlike deel van ons volk nie die huidige Brits-koloniale
grense van Suid-Afrika aanvaar nie, en selfbeskikking in ons eie
gebied opeis.

9. Dat ons Volksraad, sodra dit tot stand gekom het, hierdie eis sal
hanteer ooreenkomstig die vereistes van die Volkereg.

- Paul Kruger
6 April 2009


Intussen werk ons hard aan die draaiboek van die televisie-produksie
wat ons gratis by wyse van DVD gaan versprei. Weereens: As iemand
interressante video-materiaal het uit welke tydperk ookal, laat weet
asseblief!

Julle het sekerlik opgemerk dat ons webwerf ook intussen in 'n ander
klas inbeweeg het, en hiervoor ons opregte dank aan die jonge heer
Quintin Diederichs. Ek voorspel dat hy nog diep spore in die
vryheidstryd gaan trap! Danksy Quintin se uitsonderlike vaardighede op
die internet-terrein is hy gevra om as Openbare Betrekkinge Beampte
vir die VVK op te tree, en enigiemand wat ons wil kontak insake e-pos
kommunikasie, webwerwe of Internet-navrae kan sommer direk met hom
skakel by 076 943 2214 of vvk@drommedaris-golf.com

Ja, en so het die nasionale verkiesing van 2009 intussen verbygegaan
sonder - wil ek my verstout om te sê - dat dit ons nader gebring het
aan ons strewe om onsself weer in ons eie vaderland te regeer. Van die
VVK se kant af is ons dankbaar dat talle vryheidsgesindes wat wel in
die nasionale verkiesing gestem het, nou reeds ook hulle gewig ingooi
by die volk se eie verkiesing wat die VVK fasiliteer – 'n verkiesing
wat gaan uitloop op 'n mandaat aan verkose leiers wat die eis vir
selfbeskikking sal deurvoer.

Laat ons almal in snelrat inbeweeg met die harde werk op hande; kontak
die Sentrale Komitee met enige vorm van hulp wat jy kan aanbied, en
onthou dat ons niks beter of slegter is nie as ons voorouers wat net
sulke geweldige uitdagings te bowe moes kom – en te bowe gekom het –
ter wille van vryheid. ONS KAN DIT OOK DOEN, ONS GAAN DIT OOK DOEN!

Groetnis tot volgende keer.

"Sukses is nie 'n ongeluk nie – dit is die resultaat van 'n intelligente poging"

Uhuru-dag

Vandag, die 27ste April, vier die bewindhebbers van die nuwe
Suid-Afrika vryheidsdag, of soos hulle vryheid noem uhuru.
Dit is ironies dat vryheid gevier word in 'n land waar soveel mense
geen vryheid het nie. Trouens is dit slegs Jakob Zuma en sy binnekring
wat vryheid geniet. Zuma is nou vry van vervolging en ook saam met sy
binnekring vry om te maak met SA wat hulle wil.

Ons volk se vryheid is sedert die instel van vryheidsdag, daagliks
meer en meer ingeperk deur die terroriste bende wat Suid-Afrika
beheer. Die grondwet wat sekere vryhede beloof, is ook nie die papier
werd waarop dit geskryf is nie.

Hierdie volk word egter nie so maklik onder gekry nie. As die eens
magtige Britse empire dit nie kon doen nie, hoe gaan 'n Soweto straat
bende dit reg kry?

Vir lank was hierdie volk verslae oor die gebeure in die eens pragtige
Suid-Afrika, maar net soos na die tweede vryheidsoorlog, is hierdie
volk weer aan die opstaan.

Aan die stryders van die volk wil ek se, julle verdien ook 'n
vakansiedag. Dit is nou wel nie ons volk se vryheidsdag nie, maar ons
kan steeds die dag gebruik en hom bloot 'n ander naam gee.

Daar is reeds 'n braaidag, laat ons hierdie dan potjiekosdag herdoop.
Laat ons die dag gebruik om ons te herlaai vir die stryd en wanneer
ons vry is, dan bepaal ons self wanneer ons vryheidsdag vier!